Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Dit krap in die gedenktuin

Dit krap in die gedenktuin
 
2007-04-25


DRIE jaar gelede was oud-bewoners van die Onverwacht Landgoed op Wellington dankbaar dat die ontwikkelaars verlof vir ’n gedenktuin oor die grafte van hul naasbestaandes verleen het.

Vandag is Jonathan Mentoor en Sus Visagie en hul bure van destyds hartseer oor die toestand van die gedenktuin.

Vir byna twee jaar lank is ’n staalhouer met tuingereedskap deur die Huiseienaarsvereniging van die landgoed in die middel van die gedenktuin staangemaak.

Na byna ’n jaar se pleidooie aan die komitee, is die houer eindelik vanjaar verskuif, nadat die Suid-Afrikaanse Erfenisraad (Sahra) hul stem dik gemaak het.

“Maar toe skuif hulle die houer tot net agter die gedenkmuur, waar daar ook grafte is,” kla inwoner Sandra Lotz en die oud-inwoners.

“Daar is tog soveel ander plek op die landgoed, hoekom nou juis hier waar dit so onooglik is? Bowendien word tuinvullis gedurig hier gestrooi.”

Die grafte het jare lank onversorg tussen lang gras in die skaduwee van bloekombome gelê totdat die ontwikkelaars in Maart 2004 daarvan te hore gekom het toe hulle slote vir dienste oor die erwe sou grawe.

Argeoloog Mary Patrick het navorsing gedoen, familielede van voormalige plaasbewoners opgespoor, en hulle is by die beplanning van ’n gedenktuin betrek.

Die begraafplaas is tot in die 1970’s benut.

Soos bepaal deur erfeniswetgewing moes die begraafplaas nie versteur word nie, maar in ’n tuin van herinnering omskep word.

’n Diens is gehou waartydens die grond geseën is. ’n Gedenkmuurtjie is opgerig met ’n brons plaat met die name van oorledenes, en gras is geplant.

“Ons wag nou vir ’n ringmuur,” het Sus verlede week gesê. Sy doen vandag nog huiswerk by inwoners van die landgoed.

“Die kniehoogte muur staan nie in die kontrak nie, maar dit is so aan ons verduidelik.

“Ek is ook ongelukkig omdat ons begin het om blomme te plant, maar toe word ons gestop, want dit pas glo nie by die algehele voorkoms van die ontwikkeling nie. Ek mag ook nie die kraan se kop kry om die gras en plante op my afdae te kom water gee nie.”

Die landgoedbestuurder, Piet Giliomee, het sy eie weergawe.

“Daar was nie fondse vir enigiets meer as wat daar aan die gedenktuin gedoen is nie, maar noudat fase drie van die ontwikkeling voltooi word, sal ons ’n lae heining van paaltjies om die tuin kan aanbring.

“Ons het ’n vaste skedule vir besproeiing, so dit is nie nodig om nog water te gee nie. Ek is nie daarvan bewus dat die waterkraan van die familielede weggehou word nie, of dat hulle daarvan weerhou word om die tuin te verfraai nie.

“Ons wil dit egter laat aanpas by die beplanting van die res van die landgoed.”

Volgens Giliomee sal daar ook benewens die omheining van die gedenktuin, voor die winter aanplantings gedoen word.

“Die houer sal in Aprilmaand permanent verskuif word.”

Maar die oud-bewoners bly skepties.

“Ons sal maar sien of daar woord gehou word. ’n Mens wil jou ontslapenes eer, en hier op Onverwacht word nie reg gemaak met hulle nie. Dit word nou ’n tuin van slegte herinnering,” sê Sus.

Voor verlede week het ’n lid van Sahra se raad, Mary Lesley, besoek afgelê by die gedenktuin.

“Die houer staan steeds teen die grafte en dit is onaanvaarbaar. Daar word nou weer ’n skrywe aan die huiseienaarsvereniging gerig om die situasie reg te stel.”

* A container that had been dumped at the Garden of Remembrance on Onverwacht Estate, is causing much controversy. - Malané Bosman



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za