Stewig in die saal
2007-05-03
HY is ‘n groot man, Drakenstein se nuwe burgemeester. En ‘n man wat eerder die politiek vir rolbal sal verruil as om oor te loop en sy kiesers so in die steek te laat.
Met ‘n tikkie humor wat so droogweg insluip, verklap Koos Louw van Courtrai sy mates as ‘n stewige 38-45-38. Vir sy ouderdom is hy ook nie skaam nie, want op die vooraand van 76 lyk hy ‘n dekade jonger.
Maar daar is niks van onbesonne jeug nie, eerder die rustige wysheid van ‘n lang lewe.
Louw is ‘n seun van Wellington, wat in sy vyfde skooljaar in Beaufort-Wes sy eerste rugbywedstryd tussen duwweltjies gespeel het.
Later het hy weer saam met sy gesin na Bloemfontein verhuis, waar hy by Grey Kollege glo ongewild was omdat hy nie rugby gespeel het nie.
“Ek het in graad 12 daar ingestap en moes dag en nag studeer om die Vrystaatse leerplan onder die knie te kry,” vertel hy.
Ná skool het hy bedags gewerk en saans met sy besliste aanleg vir syfers en logika B.Com. studeer aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat.
“Ek is ‘n praktiese mens, en deur bedags geld te verdien, het ek dit makliker gemaak vir my ouers.”
Ná universiteit het hy as inspekteur by die Koringraad aangesluit en vyf jaar lank die land vol gereis.
“Die ou regering het darem iets goed gedoen,” skerts hy.
“Hulle het brood en meel gesubsidieer om die broodprys laag te hou.” Saans het hy die boeke nader getrek om homself as geoktrooieerde sekretaris te bekwaam.
Dit was op een van hierdie reise dat hy sy vrou, Karin, ‘n opgeleide verpleegster, in Kaapstad ontmoet het. Die egpaar het vier kinders en agt kleinkinders.
“Ek het vroeg geleer dat om iets te bereik, moet jy meer werk en harder werk as die ander,” deel hy sy lewensfilosofie.
Daarom het hy LL.B. deeltyds deur Unisa studeer en in Pretoria gepraktiseer voordat hy by die KWV aangesluit het waar hy 25 jaar lank “veilig in die saal" gevoel het, die wynbeheerwette geadministreer en Suid-Afrika by die internasionale wynkantoor verteenwoordig het.
Tydens die jare by die KWV het Louw ‘n meestersgraad in bestuurswese by Unisa verwerf.
In 1991 het hy afgetree. Hy het in die Paarl as prokureur begin praktiseer en gekonsentreer op dranklisensiëring en koöperasiereg. Louw het van sy vroeë dertigs rolbal gespeel, later met senior provinsiale kleure en was hy presidente van Kaap Platteland en toe Boland.
“Maar die politiek het tussenbeide getree, en vandag is my Paarlse rolbalmaats kwaad vir my, want ek het vier jaar al nie meer tyd vir speel nie.”
Hy kry nou wel nie meer oefening nie, behalwe om sy eie gras te sny, maar hy bly jonk deur gesond te eet.
Die burgemeester bly darem mens, en hy slaan graag sy hand - en tand - aan ‘n selfgebakte potbrood. Dis veral tydens vakansies in die Kalahari dat die “middelmaat” met die stysel getroef word.
“Ek is nie ‘n politikus nie. Ek wil nog altyd graag dinge uitwerk op beginsels, met objektiewe standaarde, maar daarmee kom jy nie ver in die politiek nie,” erken die nuwe eerste burger van Drakenstein.
Eduard Beukman, oudburgemeester en destydse KWV kollega, het in 2000 uitgetree uit die stadsraad en vir Louw, wat 30 jaar in dieselfde wyk gewoon het, genader om te staan vir die DA. “En toe het dit begin interessant raak,” bieg hy.
“As gewone raadslid het ons begin om mekaar te leer ken - so voel-voel. Ons het mekaar se behoeftes begin raaksien en danksy wedersydse begrip, het my posisie al sterker geword.
“Ek sou nie gewees het waar ek vandag is, sonder die steun van die breër bevolking nie.”
Hy beskryf homself as meer ‘n introvert, iemand wat nie in ‘n raadsaal opgewonde raak nie.
“Ek probeer nie my opposisie beledig nie. Dis nie nodig nie. Hy het mos net ‘n ander siening as ek, ons moet mekaar net vind,” meen die man wat eerder wil versoen as verskree.
“Politiek het dramaties verander. As jy nie kan aanpas nie, moet jy uit. Met die veelparty-ooreenkoms is die uitdaging om konsensuspolitiek suksesvol in die praktyk toe te pas.
“Ek is nie ‘n pessimis nie, maar ons moet September vanjaar (die oorloopvenster) prakties in die oë kyk. Ek moet die politici kan oortuig om te bly vir goeie beginsels in ‘n arena waar tjekboekpolitiek ‘n groot rol speel.
“Ek loop nie oor nie, ek bedank liewer en gaan speel rolbal as ek nie meer tevrede is met die party of die politiek nie. Ek wil standaarde en beginsels handhaaf.”
Louw wil nie vandag aan die inwoners van Drakenstein beloftes maak nie.
“Ek glo daaraan om die konserwatiewe paadjie te loop. Ons gaan kyk waar die grootste behoeftes is en daarvolgens optree, binne die perke van wetlike voorskrifte en beperkte finansies.
“Maar die kern bly diens, diens en nogmaals diens. Dit is immers waarvoor ‘n munisipaliteit geskep is.”
* Drakenstein’s new mayor is committed to service delivery and making a success of consensus politics.
More
News
|