Sy stem bly sterk
2007-05-17
HY sal nie bly sit nie. As Barry Stander nie in sy geliefde berge en bosse kan loop nie, sal hy kruip.
‘n Fratsongeluk tussen bloekombome het verlede maand hierdie bekende bosbouer van Wellington sy linkerbeen gekos, maar niks gaan die groot man met die woeste, wit baard en die stout glimlag onder hou nie.
Vandag leun Barry nog teen die kussings van sy hospitaalbed, maar volgende week sal hy in sy nuwe Mercedes rondjaag, dis verseker.
‘n 1968 Mercedes is wat hy sy blou rolstoel noem, die een wat langs sy bed bly totdat hy toegelaat word om op te staan en met krukke oor die weg te kom.
Barry het nooit daardie Donderdagoggend 19 April gedink sy lyf en sy lewe sou so verander nie.
Hy het immers in sy werk as baas van sy maatskappy, “Stem van die Bos”, hope ontsag vir die krag en wispelturigheid van boom en bos.
In 1968 was hy al met pik en graaf in George se woude. Van 1973 tot 1982 het hy vir Bosbou gewerk by La Motte. Daarna vir drie jaar as bosbouer in die Transvaal. En toe vir elf jaar as beampte by Natuurbewaring.
Sedert 1995 maak Barry sy stem dik en trap hy kennerspore met sy stewels oor die Bolandse berge en dale, toe met sy eie maatskappy wat van alles wat uitheems is, ontslae raak.
“Ek is altyd bewus van veiligheid. Ek werk al meer as 30 jaar met ‘n kragsaag, en nog nooit was daar ‘n enkele misstap nie. En toe dié Donderdag.
“Ek het die boom sien kom, maar toe is ek al klaar onder hom,” onthou hy die ongeluk.
Barry en sy werkers het ‘n week lank op Plaisir de Merle die 200 bloekombome in ‘n bos afgesaag. Dit was onbegaanbare terrein. Hulle was nog net besig om die bome met katrol en kabels uit te trek toe ‘n anker breek.
Die 20m hoë boom, so dik dat ‘n man skaars sy arms daarom kan kry, het Barry op sy rug bo-op ‘n stomp vasgepen.
Dit was ‘n vreeslike warm dag. Met Barry wat kreun op die grond en gil van die pyn, het sy wer- kers ‘n kring om hom gevorm en hul baadjies oor sy liggaam gehou vir skaduwee.
“Ek sal nooit vergeet nie. Een van die manne het my vasgehou, en sy trane was nat oor my arms,” vertel Barry steeds aangedaan. Sy linkerbeen was versplinter. Van die gebreekte regterenkel en voetbeentjies was hy toe nie eens bewus nie.
Sy selfoon was ook in stukke, en een van sy werkers moes met die bakkie gaan hulp soek. Die ambulans en Barry se vrou en twee seuns het byna gelykertyd daar aangekom.
“Die skok was byna te groot vir hulle. Ek self het net die heeltyd gewonder wat van my been gaan word,” onthou Barry die tyd.
En dan: “Weet jy hoe stamp ‘n ambulans oor die grondpad? Ek het net heeltyd gevra, hoe ver nog, hoe ver nog.”
Sy gesig en hande was onherkenbaar opgeswel.
By die hospitaal moes hy 12 eenhede bloed kry. Daardie nag is daar ses uur lank gepoog om sy been te red.
Die Vrydag was hy heeldag onder verdowing terwyl sy toestand gemonitor is, maar teen Saterdagoggend was daar geen ander uitweg nie. Die been moes afgesit word.
Aan sy gesin was sy woorde toe hy teater toe gestoot word: “Ek gaan nie weg nie. Ek kom weer.”
In ‘n vyfuurlange operasie het Barry sy linkerbeen verloor en is sy regterenkel en voet met skroewe en ‘n plaat geheg.
“Toe ek wakker word ná die narkose, het ek afgekyk na my bene, en daar was net een. Dit het vir my gevoel asof daar ‘n reuse betonblok op my hart druk.
“Hier was nou die dag ‘n brandweeroutjie by my in die hospital. Ons het so baie saamgewerk, en die dag het ons saam gehuil. Ek het al baie gehuil in hierdie bed.
“Dis goed as kuiermense hier is, maar sodra ek alleen is, wat dink jy, waaraan dink ek dan hier tussen die vier mure?
“By tye is die pyn erg. Veral die spookpyne, wanneer dit voel of my voet skaaf teen die grond, of met ‘n mes geprik word, en dan is daar nie ‘n voet nie.”
Maar dan lag die groot man met die wit baard weer.
“Ek mag nou ses weke lank nie op my voet trap nie, maar daarna gaan niks my plat hou nie. Gee my net krukke, dan wys ek jou. Die bakkie staan reg, nou net ‘n outomatiese een.
“Jy kan nie gaan sit nie. Jy moet opstaan. As ek nie kan loop nie, dan sal ek kruip.
“My twee seuns, Jaco en Paul, sal die werk oorvat, maar ek sal daar wees, langs hulle.”
* A well-known Wellington forester lost his left leg in an accident while felling trees. But he has a message – he will not stay down.
More
News
|