Toringkerk vier eeu
2007-05-31
Lise Beyers
VANJAAR is dit presies ‘n honderd jaar gelede dat die oprigting van die bekende Toringkerk voltooi is.
Hierdie kerk met sy kenmerkende 57m hoë toring het deur die jare ‘n baken van die Paarl geword, veral weens sy sentrale ligging.
Ry maar net berg-langs en jou oog vang die indrukwekkende kerktoring, waar dit middel in die hartjie van die Paarlvallei troon.
Dit is dan eerbiedig aan hierdie baken en staatmaker van die Paarl, dat hulde aan die kerk gebring moet word ‘n eeu nadat dit gebou is.
Die kerk, wat bekend gestaan het as NGK Noorder-Paarl gemeente, is in 1875 gestig weens verdeeldheid tussen lede van die NG gemeente Paarl, beter bekend as die Strooidakkerk.
Lidmate het toe afgestig en ‘n band gevorm met die Paarl Gimnasium, wat bekend gestaan het as ‘n vrye kerkskool vir Christelike en moedertaalonderwys.
Die vaders van die Noorder-Paarl gemeente het hierna gestreef en so is hul kerk op die‚ beginsels gebou.
Die skool was in daardie tydperk finansieel in die knyp, en die nuutgestigte gemeente het vir die eerste 11 jaar van sy bestaan geldelike verantwoordelikheid vir Gimnasium aanvaar.
Toe die oorspronklike klein kerkgeboutjie uit sy nate begin bars het, is ene Sherwood (wat steeds ‘n misterieuse argitek bly) gevra om ‘n nuwe kerk te ontwerp en op 8 April 1905 is die hoeksteen deur die bekende kerkman, dr Andrew Murray gelê.
Die bouwerk van hierdie indrukwekkende kerk het ‘n skamele twee jaar geneem, wat ‘n reuse prestasie was vir daardie tydperk.
Die hele struktuur, wat beskou word as ‘n kombinasie van Middeleeuse Romaanse en Gotiese boustyle, is teen ‘n koste van 27 350 pond voltooi. Die bekende kerkorrel is vanuit Engeland ingevoer, en die unieke kerkbanke vanuit Egipte.
Omdat daar in die vroeë bestaansjare van die Toringkerk onmin geheers het tussen hulle en die Strooidakkerk, kan mens nie help om te wonder of hierdie indrukwekkende gebou juis ontwerp is om bo die Strooidakkerk, wat in vergelyking ‘n beskeie gebou is, uit te toring nie.
Die Toringkerk het sedert sy ontstaan sy gemeente gelei deur die Eerste Afrikaanse taalbeweging, die Anglo Boereoorlog en twee Wêreld-oorloë, tot in die reënboognasie.
Vandag staan drie dinamiese dominees aan die leierskap van die Toringkerk, Carl Lotz, Jaco Thom en nuweling Christo Botha, gereed om die kerk verder in die toekoms in te lei.
More
News
|