Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Helpende hand verlig hul eensaamheid

Helpende hand verlig hul eensaamheid
 
2005-05-26

Susan Botha

DIE gemeenskap besef nie altyd hoe eensaam ons senior burgers is nie.

“Baie sit en ervaar die afwesigheid van geliefdes,” vertel Elvira Kleinhans, bestuurder van Rusthof Ouetehuis in die Paarl.

Dit is een van die redes hoekom Rusthof met die ‘Adopt-a-Granny’-projek begin het.

Die ander rede is natuurlik finansies, iets waaraan die meeste tehuise deesdae mank gaan.

Sr Kleinhans sê dit gaan goed met dié projek wat hulle verlede jaar begin het.

“Ons moedig organisasies en individue aan om een, of meer, oumense aan te neem.

“Indien moontlik woeker hulle vir die persoon, wat dan as ‘debutant’ optree.”

Maar die projek gaan ook verder. Daar is rugbyklubs wat oud-spelers en -ondersteuners aanneem en hulle dan kom haal vir wedstryde.

Een so ’n inwoner is tant Maria Swarts, ’n ywerige Riverstones-ondersteuner, wat nou deur dié klub ‘aangeneem’ is.

“Dit maak hulle weer deel van die sosiale omgewing.
“Mense moet onthou ons inwoners het nog steeds dieselfde basiese behoeftes, hulle het net van adres verander.”

Die projek is verlede jaar tydens ’n spogfunksie bekend gestel.
Die deelnemende seniors het hulself voorgestel aan die gehoor en suster Kleinhans sê die resultate was oorweldigend.

“Dit was die eerste Kersfees dat soveel van ons inwoners uitgegaan en ook geskenke ontvang het.”

Heelwat van die organisasies het reeds mense aangeneem en dan is daar ander wat nog opsies ondersoek.

New Orleans Sekondêr het nog nie besluit wie hulle gaan aanneem nie, maar hulle samel wel geld in vir die tehuis.

Die inwoners het dikwels nie geld vir hul persoonlike behoeftes nie, en daar is ook ’n gebrek aan ontspanningsvermaak.

Die biblioteek besoek die tehuis gereeld, maar hulle kan doen met boeke en tydskrifte.

“Daar is so baie wat ons nodig het. Ons soek ’n domino-tafel, en dan is hier ’n oom wat houtwerk wil doen, maar nie toerusting het nie.
“Ons het ’n naaldwerkkamer, maar ons soek iemand wat die mense opleiding kan gee.”

Die tehuis is besig om met haarkappers te onderhandel om een dag per week ’n salon by die ouetehuis te hê.

Die tehuis self het ook heelwat behoeftes. “Ons wil graag ons siekeboeg mooi maak en nooi besighede uit om kamers aan te neem.”

Rusthof het op die oomblik 104 inwoners, waarvan 25 verswak is.
Drie van die inwoners is kwadrupleë, daar is ook mense wat blind en hardhorend is, asook een erg spastiese pasiënt.

Hierdie mense het gespesialiseerde dienste nodig, wat dikwels baie duur is.

Die tehuis is in die proses om susters aan te stel, maar op die oomblik beskik hulle oor een agentskapsuster en twee stafverpleegsters.

Hulle word bygestaan deur agt geregistreerde assistent-verpleegkundiges en 15 bejaardesorgwerkers wat ’n kursus in tuisverpleging gedoen het.

Suster Kleinhans sê hulle spysenierings- en wasserydiens is in staat om bekostigbare dienste aan die gemeenskap te lewer.

“Ons kan byvoorbeeld rugbytruie vir skole en klubs was.”

Sy het die gemeenskap uitgenooi om betrokke te raak: “Hierdie is die Paarl se ouetehuis, kom kuier gerus vir ons.”

Sy het ook vrymoedigheid om te sê: “Ons maak ook foute, maar kom gesels met ons, dat ons kan verbeter op ons diens.”

Ten slotte het sy beklemtoon dat ouetehuise ’n belangrike rol speel in die gemeenskap. “Ons het nie die reg om families te verwyt wat nie meer bejaardes by die huis kan versorg nie.

“Deur hulle in ’n tehuis te sit, doen hulle wat die beste vir die bejaarde is.”

Mense wat wil help of navraag doen, kan Rusthof skakel by 862-2230.
* The “adoption" programme at Rusthof old age home has brought joy to the residents without relatives.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za