My motor, jou bakkie
2005-05-26
NIE eens kerkgangers word deesdae deur motordiewe geheilig nie.
So moes Basil Croukamp van Bellville tot sy skok ontdek toe hy verlede Sondag uit die Lig-en-Lewe-kerk in Rosestraat gekom het.
Vir Basil was dit nie ’n goeie week nie, vertel hy.
Eers was hy die Dinsdag in ’n motorbotsing betrokke, en sy voertuig onbruikbaar. Die Sondag het hy toe ’n ryding van ’n vriend, Basil van der Linde van Somerset-Wes, geleen om die erediens in die Paarl by te woon.
En toe hy ná die diens sy voertuig in Vercuielstraat soek, was dié skoonveld.
Dit het ’n uur geduur voordat Basil die onbekende registrasienommer aan die polisie kon verskaf, en teen daardie tyd was die rooi Toyota Venture lankal dorp uit.
Die Sondagaand om 21:00 het die regmatige eienaar skielik onthou die voertuig is met die Tracker-sisteem toegerus. Dit is geaktiveer, en die bussie is verlate in Nyanga opgespoor.
Die diewe het die kassetspeler, Basil se kerkbaadjie en sy dagboek weggedra. Maar behalwe dat die deurslotte en aansitter beskadig is, was die Venture ongedeerd.
In nog ’n geval van motordiefstal in die Paarl het Cecile Heyns van Courtrai die oggend tien voor vyf gesien hoe hul Ford Bantambakkie uit hul oprit gestoot word.
Haar man, Pieter, het dadelik die diewe agternagesit, maar hulle het met bakkie en al verdwyn.
’n Smous wat sy bakkie op die hoek van Breda- en Nuwestraat in Paarl geparkeer het, het darem weer sy voertuig teruggekry toe die dief koue voete gekry het.
Volgens die polisie het die smous skaars sy Isuzu geparkeer of hy sien hoe ’n vreemdeling daarmee wegry.
Hy het die bakkie agtervolg en dit teruggekry toe die dief dit in Jan van Riebeeckweg gelaat en by Hugenotestasie in ’n trein gevlug het.
Motordiefstal het nou so toegeneem in die Paarl, Worcester en veral Stellenbosch, dat Boland area-kommissaris Ganief Daniels ’n taakspan op die been gebring het wat al die sake hanteer.
* It is no longer safe to leave your car unattended during a church service, as a churchgoer discovered in Paarl.
More
News
|