Oudspeurhoof verloor appèl
2005-05-26
DIE appèl van die voormalige Paarlse polisie-speurhoof Petri Theart teen sy skuldigbevinding op bedrogklagte, is van die hand gewys.
Nou gaan Theart dit “aanvaar, hoe onsamehangend ook al die uitspraak is,” het hy gister gesê.
“As daar nog ’n pad was wat ek kon loop om my onskuld te bewys, het ek dit gedoen. ’n Mens gooi nie die honderd-duisende rande aan regskostes in die water as jy nie aan jou onskuld glo nie.”
Theart was hoof van die Kinderbeskermingsprogram in die Wes-Kaap toe daar tussen 1996 en 1998 bedrog van R200 000 gepleeg is met eise vir kos en verblyf van getuies in die program.
Hy het hierdie week, ná vier jaar, in die Bloemfonteinse appèlhof gehoor dat sy appèl van die hand gewys is.
Volgens die appèlregters is dit onwaarskynlik dat dié hof tot ’n ander beslissing sou kom as die Bellville-streekhof waar Theart in 2001 ’n opgeskorte vonnis van vier jaar tronkstraf opgelê is.
Theart het eers by die Kaapse Hooggeregshof appèl aangeteken, waar die skuldigbevinding bekragtig is, én sy vonnis met ’n boete van R10 000 of 18 maande tronkstraf verhoog is.
Die appèlhof het bevind dat dit moontlik is dat Theart, soos in sy verweer, self onkostes aangegaan het.
Die hof het ook beslis dat daar nie bewys is dat Theart voordeel uit die volle bedrag ter sprake getrek het nie.
Daar is wel beheermaatreëls omseil in ’n doelbewuste poging om die departement te bedrieg.
Theart is in 2000 medies ongeskik verklaar en het met pensioen uit die polisiediens getree. Hy doen sedertdien met opsporingswerk.
More
News
|