Ina Rens - sterk aan die stuur
2005-05-26
Malané Bosman
NIKS is ooit buite bereik vir Ina Rens nie, veral nie as daar ’n mens aan die anderkant van die probleem is nie - iemand vir wie sy die lewe kan verryk en vergemaklik.
En al is Ina Rens vanjaar 83, en al het sy nou die stoel as nasionale voorsitter van die ACVV hoofbestuur oorgegee, is daar nog baie organiseer in haar.
Haar welsynswerk het begin as maatskaplike werker wat die lot van sukkelmense in Upington verlig.
En toe gaan draai haar lewe by organiseer, somme maak, bouprojekte, boeke laat klop, nog organiseer - en Huis Vergenoegd, die monument van die vrou vir wie niks onmoontlik is nie.
“Jy bedel, jy leen of jy koop self. Daar is altyd ’n manier, solank die motivering net reg is,” glo sy.
Terwyl sy as nasionale voorsitter van die ACVV hoofbestuur in Kaapstad uitgetree het, bly sy voorsitter in die Paarl en voorsitter van Huis Vergenoegd se bestuur.
Oor haarself praat Ina Rens nie, behalwe as daar na haar ouderdom uitgevis word.
Dan antwoord sy haastig: “Daar is nie so iets soos oud-wees nie. Ek het nog dieselfde selfvertroue. Die ouderdom bring net groter wysheid.
“Ek sal aanhou werk tot ek omval,” maak sy die missie duidelik. Vriende en kollegas praat egter maklik oor die “besonderse persoon, streng, maar met omgee.”
“As mens is sy ’n sterk leier, met ’n werkvermoë waaraan daar nie einde is nie,” sê Annelien Hoekstra, wat al drie dekades saam met haar werk.
Hoe het ’n maatskaplike werker van toentertyd dan die selfvertroue gekry om groot bouprojekte soos Huis Vergenoegd aan te pak?
“Ek het ook maar geleer deur foute,” erken Rens.
Huis Vergenoegd is ’n unieke projek waarin die ACVV (Paarl-tak) toestemming verkry het om historiese geboue te integreer met ’n nuwe woonstelkompleks vir bejaardes.
“Dis vir my heerlik,” sê die dryfveer agter die projek, “om ’n gebou op te rig en dinge te laat gebeur.
Dit was die vroue van die Paarl wat 31 jaar gelede die taak aangepak het, en vandag is die grasdak gewelgebou in die Hoofstraat een van die besbewaardes in die dorp, met daarby ’n hawe vir die 250 inwoners.
“Dis haar sterk persoonlikheid en haar besliste besluitneming wat die skip op die pad hou,” sê kollegas.
“As sy daardie koppie so knik, dan weet jy, dis nee - of ja, as jou motivering goed genoeg is.”
Die diens van die vroue, almal lede van die ACVV (Afrikaanse Christelike Vrouevereniging), is alles vrywillig. Nie ’n telefoonoproep, ’n rit, pen of papier word aan hulle terugbetaal nie.
“Dis ’n direksie sonder uitgawe op die begroting,” glimlag die voorsitter.
Ina Rens is lief vir haar huis en haar tuin. Sy is nie so sterk op kosmaak nie, erken sy.
“Ek hou van iets organiseer,” sê sy en jy weet dit is so. Hierdie vrou is ’n niks nonsens mens. Sy kán organiseer, boeke laat klop, en die onmoontlike laat gebeur.
Wat sy egter weier, is om oor haarself te praat. Jy kan vrae om hoeveel draaie vra, maar Ina Rens kry dit reg om die gesprek te lei na haar geliefde ACVV en hoeveel dié organisasie vir welsyn in Suid-Afrika beteken het en steeds doen.
Dis gemeenskapswerk, gesondheidsdienste, gesinsorg, kindersorg, tehuise vir bejaardes, ’n magdom liefdadigheidsfunksies wat uitgevoer word.
“Sy wil altyd net vertel wat ander mense doen,” sê die hoof van Huis Vergenoegd, Marina Mostert.
“Maar die ACVV en hierdie tehuis is eintlik haar monument. Groot mense word klein, en sy is een van die grootstes.”
Dis nie nodig dat die vrou met die deurdringede kyk in haar blou oë, oor haarself praat nie.
Haar dade spreek boekdele, hoofstukke van ’n suksesverhaal van organiseer om die lewe vir ander aangenamer te maak.
More
News
|