Springbok bult spiere by Ouma se huis
2007-06-14
Christene Siebrits
UITGEVAT in sy groen Springbok baadjie (wat hy 40 jaar laat ontvang het), het Henry Jones verlede week ‘n draai by Ouma Granny’s Huismuseum op Wellington kom maak.
Jones is vandag 78 jaar oud, maar die beroemde spiere is nog steeds sigbaar.
Hierdie merkwaardige Wellingtonner lyk beslis nie sy jare nie en kan nog menige jongman goed op sy plek sit as dit by spiere bult kom.
Hy het ‘n droom gehad en niks en niemand kon hom keer nie. Met slegs standerd 5 (graad 7) agter die rug, het hy ‘n messelaar geword. Sy pa was ‘n gewone plaasarbeider, dus was daar nie geld vir verdere studies of vir liggaamsbou-apparaat nie. Hy het sy eie stel gewigte gemaak - emmers vol sand aan ‘n stok vasgemaak.
Hy het in 1959 aan kompetisies begin deelneem (in die apartheidsjare kon hy nie aan die amptelike kompetisies deelneem nie). Maar dit het hom nie van stryk gebring nie.
Toe hy vir die eerste keer die Mnr Suid-Afrika titel vir bruinmense wen, kon hy nie die land amptelik in die Mnr Heelal-kompetisie verteenwoordig nie.
Hy het gespartel om self geld bymekaar te maak om aan die kompetisie te gaan deelneem en het net-net genoeg gehad om te gaan. Die geld was skraps en baie aande het hy honger gaan slaap.
Hy het ingeskryf in die kategorie vir deelnemers korter as 1,8m en in 1963 is hy as die naaswenner van die Mnr Heelal-kompetisie aangewys.
In 1964 het twee koerante hom geborg en het dit makliker gegaan, maar die vliegtuigkaartjie moes hy self betaal. Daardie jaar het hy die Mnr Heelal- titel verower.
As jy ‘n droom het, kan jy dit waarheid maak as jy bereid is om baie hard te werk. “Aanhouer wen!” sê hierdie merkwaardige man.
More
News
|