Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Samaritane gee hand

Samaritane gee hand
 
2007-06-14

David Joshua

“DIE dak het gelek nou met die reënweer, die deur het nie reg toegemaak nie, die plafon moet nog in en die badkamer was nie klaar nie met waterpype wat verstop was.

“Dit was nie so lekker hier by Helping Hands nie, maar dankie tog vir die barmhartige Samaritane wat alweer ingespring het om te kom help,” sê Priscilla Simons van Helping Hands kinderhuis in Carterville in Wellington.

“Ons kan nie genoeg dankie sê vir al die hulp wat ons ontvang nie,” sê Mama Africa, soos wat Simons ook bekend staan.

Sy versorg kinders van die omliggende gebied en voorsien ’n veilige hawe vir hulle wat geraak word deur HIV/Vigs, seksuele misbruik en alkoholsindroom.

Die tehuis het begin vanjaar geopen, maar die gebou is nie heeltemal voltooi nie en onderhoudswerk was ook dringend nodig met van die waterpype wat verstop geraak en die dreine wat begin oorloop het.

Barmhartige samaritaan Dudley Thomas van Country Building Supplies in Stikland het van haar verknorsing gelees in ’n onlangse uitgawe van Paarl Post en besluit om iets aan die saak te doen. Hy het die nodige boumateriaal ter waarde van R12 000 geskenk om die huis te voltooi.

Lede van Drakenstein Korrektiewe Dienste het hul ambagsvernuf beskikbaar gestel en Vrydag is aan die werk gespring. Dit was ’n gewerskaf met timmer, saag en kap om te help om die plek meer leefbaar te maak.

Buite het Pieter de Jager die spaanderborde gesaag om te dien as afskorting vir ’n bykomstige slaapkamer, terwyl James Lottering, William van Niekerk, Lukas Wildschut en Andy Christians die badkamer getakel het met die teël- en loodgieterwerk.
Die lekplekke in die dak is verseël en die plafon gaan later ingesit word.

Henry de Wet en Pieter Julies het die voordeur vervang terwyl Michael Gilfillan buite die geute gehang en ’n afdak begin bou het om die deur te beskerm.

Die kleinspan het die gedoente nuuskierig gade geslaan. Kort voor lank weet hulle is hul huis heeltemal klaar en beskut teen die winterkou



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za