Ouers soek seun se foto's
2007-06-28
DIE bedroefde ouers van ’n seun wat onlangs oorlede is, het die afgelope naweek nog ’n terugslag ervaar toe die kamera met die laaste beelde van hul seun daarop, gesteel is.
Gideon Ferreira vertel dat na die afsterwe van hul seun, Johann (15), gebruik beide hy en sy vrou, Marika, slaappille.
Dus was hulle nie Vrydagnag daarvan bewus toe ’n dief by hul woning in Mollstraat ingebreek het nie.
Die dief het vermoedelik die motorhuisdeur oopgedwing en toegang tot hul huis gekry.
Hy is egter deur die egpaar se drie Staffordshire-bulterriërs verwilder. “Dit het eers nie gelyk asof die man iets gesteel het nie, totdat ons Saterdag besef het dat Marika se beursie vanaf ’n kassie naby die ingang tot die motorhuis weg is.
“Met skok het ons besef dat ons silwerkleurige Panasonic FZ2 kamera op dieselfde kassie gelê het en dit was skoonveld.
“Daar was talle foto’s van ons seun Johann daarop en ons wil net hierdie foto’s terugkry.”
Johann (15) is vroeër vanjaar aan sistiese-fibrose oorlede. Hy sou verlede week sy sestiende verjaarsdag gevier het.
Johann is op eenjarige ouderdom met dié noodlottige siekte gediagnoseer.
“Dit was opdraande vir ons almal, maar Johann het van kleins-af sy lot besef en het nooit gekla oor iets nie. Al was hy dikwels in geweldige pyn het hy dit net met ’n glimlag aanvaar.
“Sedert hy met die siekte gediagnoseer is, moes hy daagliks 500 pille drink.”
Sistiese-fibrose is ’n genetiese siekte wat die lyer se hele liggaam aantas en uiteindelik tot ’n vroeë dood lei.
“Die dokters het gesê dat Johann slegs die ouderdom van tien sal behaal, maar ons was geseën om hom amper sestien jaar met ons te hê.
“Wanneer sy gesondheid dit toegelaat het, was hy ’n lewenslustige kind wat baie vriende gehad het. Hy het selfs daarin geslaag om WP visvang-kleure te behaal.
“Ek het nou reeds die oewers van die Bergrivier naby ons huis gefynkam vir enige teken van die kamera.
“Die foto’s is al wat ek van my seun oor het en diegene wat dalk daarop afkom, kan vir my skakel by 083-269-3135.”
* The parents of a youngster who died of cystic fibrosis have been dealt another blow, when their camera with the last images of their son was stolen.
More
News
|