Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Dowe honde soek fikse base

Dowe honde soek fikse base
 
2007-07-05

Malané Bosman

WIE’T nou ore nodig as jy oë het, en ’n slim nooi wat vir jou met tekens na haar hand laat dans?

Die nooi moet natuurlik ook fiks wees, want hoe kan jy nou reageer as sy jou nie kan inhardloop om die teken vir “sit” te wys nie.

Shakira, ‘n bulterriër met dieselfde naam as ‘n bekende Latyns-Amerikaanse danseres, was ses weke oud toe sy by haar nuwe tuiste in die Paarl ingewals het.

Binne twee dae het haar nooi vermoed die nuweling kon nie hoor nie. Sy het nie eens opgekyk as die stofsuier raas of die deurklokkie lui nie.

Drie veeartse het die vermoede bevestig. Die teler was bereid om die hond terug te neem en te laat uitsit, maar sy het al klaar diep in die harte van haar eienaars gekruip.

Die teler het hul geld teruggegee, en hulle het begin inligting naslaan oor doofheid by honde op die internet.

Intussen het Shakira groter geword en getrou alles nageaap wat Rambo, die ander bulterriër op die werf, gedoen het.

Shakira moes juis Rambo se mooi maniere kom leer, het die huismense gesê, want Rambo het hartprobleme gehad en hulle het geweet hy leef op geleende tyd.

Agt maande later is hy dan ook dood.

Vandag is Shakira byna vier jaar oud. Sy ken 12 tekens en “luister” beter as die meeste ander vierbeniges, vertel haar gesin.

Sy sit as haar nooi ‘n plat, oop hand uitstrek. Sy lê as die hand grond toe wys. Sy slaap as haar nooi haar hande teen haar eie wang vou.

Dit neem net drie keer se herhaal vir die slim bulterriër om ‘n nuwe opdrag onder die knie te kry.

Haar geliefkoosde bevel is twee hande wat kamtig ‘n stuurwiel draai - dan is dit tyd om in die bakkie te spring.

Sy draf kosbak toe as haar huismense hul vingers na hul monde bring.

Sy weet opgewonde dis staptyd op ‘n teken soos die vingermannetjies van die geelbladsye.

Op ‘n ronding van vingers soek sy dadelik haar bal. Arms wat kruipslag swem stuur haar swembad toe.

‘n Reguit arm beteken “uit” en ‘n arm wat wink laat haar nader kom.
Sy word berispe met ‘n wysvinger wat swaai en ‘n ernstige gesigsuitdrukking. Nie dat dit ooit nodig is nie, want Shakira ken haar maniere.

“Sy reageer dadelik,” prys haar nooi.

Die laaste teken wat Shakira geleer is, is ‘n aanvalsteken. ‘n Toe vuis met vingers wat oopgaan in die rigting van die moontlike gevaar, stuur haar knorrend en blaffend na die teiken.

“Destyds het ons op die internet gelees ‘n lui mens kan nie ‘n dowe hond aanhou nie,” vertel Shakira se nooi.

“Dis baie waar. Jy moet bereid wees om agter haar aan te hardloop, want net as jy voor haar kom, kan sy sien jy wys dis nou ver genoeg, huis toe met jou.”

* A deaf dog in Paarl has been taught to obey 12 hand signals.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za