Taalmuseum 'n fees
2007-07-26
Erica Dreijer
DIT gebeur nie elke dag dat ’n mens kan spog dat jy in die dorp woon waar jou spreektaal, en dié van ses miljoen ander Suid-Afrikaners, tot ’n erkende taal bevorder is nie.
’n Besoek aan die Afrikaanse Museum in die Paarl is ’n interessante ervaring wat ’n mens opnuut laat besef hoe gelukkig jy jouself kan ag dat jy Afrikaans kan praat.
Op 82-jare ouderdom is Afrikaans een van die jongste tale in die wêreld. Dit is eers in 1925 as ’n amptelike taal erken.
Hierdie status is te danke aan ’n groep van agt volksvaders wat werk daarvan gemaak het om Afrikaans as ’n amptelike taal erken te kry, en op 14 Augustus 1875 die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in die Paarl gestig het.
Die stigtingsvergadering is gehou in die eetkamer van Gideon Malherbe in Pastoriestraat - die gebou wat vandag die Afrikaanse Taalmuseum huisves.
Die eerste stap was om Afrikaans van ’n praat-taal tot ’n skryf- en letterkundige taal te verhef.
Verskeie metodes is ingespan om dié ideaal te verwesenlik. Een hier van was om maandeliks Di Afrikaanse Patriot uit te bring.
In 1877 is een van die kinderkamers ook ingerig as ’n perskamer waar die Paarl se eerste koerant, Die Afrikaanse Patriot, gedruk is.
As geskiedenis nie jou sterk punt is nie, bied die verskeie uitstallings en interaktiewe hulpmiddels wat beskikbaar is in die museum ’n ander alternatief om van hierdie nuwe taal te leer.
Hierdie hulpmiddels demonstreer ook dat Afrikaans ’n dinamiese en skeppende taal is wat daagliks vernuwe word.
Sekere uitstallings en hulpmiddels demonstreer waar sekere dorpe hul name vandaan kry terwyl ander insig bied waar woorde soos “piesang” en “swaap” hul oorsprong het.
Die Volkstaal-kamer verskaf inligting oor hoe kinderspeletjies oor tyd en afstand verander het, ‘n rekenaarspeletjie wat jou kennis toets van Afrikaanse idiome en uitdrukkings en die geleentheid om na wolhaarstories te luister. Ander uitstallings sluit die “Wortels van Afrikaans”, “Woordkuns” en “Afrikaans in die Media” in.
Indien jy meer wil leer oor Afrikaans, besoek die Afrikaanse Taalmuseum weeksdae tot 16:00 en Saterdae tot 13:00. Toegangsgeld is R10 (kinders net R2).
More
News
|