Dit gons by Koinonia Sentrum
2007-07-26
David Joshua
DIT gons alweer by die nuwe perseel van Koinonia Gemeenskapsentrum by Bredastraat 105 in die Paarl. Hier word gewoel en werskaf soos personeellede werk om die kantore en lesingskamers gereed te kry sodat hulle weer volstoom aan die werk kan spring.
“Ons het onlangs verhuis van ons ou adres op die hoek van Lady Grey- en Fabriekstraat langs Radio KC, na hierdie perseel in Bredastraat. Die huis is vir ons jeug,” sę programbestuurder, Eddie Williams.
“Ons is nou net beter gerat om by ons eie plek nog steeds al die inligting, advies, werkswinkels en dienste op ’n dinamiese wyse aan almal, maar veral die jeug in die gemeenskap te lewer,” het uitvoerende voorsitter Harlan Cloete gesę.
Koinonia Gemeenskapsentrum het sowat 14 jaar gelede sy deure oopgemaak by die Ivanhoe Parkgebou in Klein Drakensteinweg. Toe het hulle verskuif na die sentrale sakekern in Lady Greystraat saam met Radio KC, hulle susterorganisasie en nou weer na hierdie nuwe perseel. Radio KC saai nog steeds uit vanuit die Fabriekstraat-perseel.
Die doel van die sentrum is die aanleer van broodnodige lewensvaardighede, verskaffing van inligting oor loopbane, werksgeleenthede en ondersteuningsdienste aan jongmense binne die Distriksmunisipaliteit.
Met die totstandkoming van die Jeugadviessentrum (YAC-Youth Advice Centre) na 2001 met die hulp van die Umsobomvu Jeugfonds, is hierdie diensbasis uitgebrei.
Koinonia het die afgelope jare reeds diep spore in die gemeenskap getrap en het hulle volle gewig ingegooi met die afgelope Jeugdagvieringe in die vallei.
In Junie het alles in die Paarl begin met die besoek van die Jeugparlement in die Gemeenskapsaal. Die doel was om ’n platform te skep waar jongmense in drie kommissies kon debatteer oor probleme wat hulle ondervind het in hulle gemeenskappe, soos dwelms en misdaad, ekonomiese deelname van die jeug in 2010 en vaardigheidsontwikkeling.
Koinonia vrywilliger Elton Fortuin, is uit die span gekies om die deklarasie voor te lees in die Provinsiale Parlement en hierna weer gekies om die Wes-Kaap se Jeug te verteenwoordig op Nasionale vlak.
Tans is daar twee studente van Northlink Kollege in die leerderskap 1000-program. Clement Andrews van Wellington en Susan de Villiers van Paarl doen hul prakties by Koinonia en is betrokke by die “Oral History Institute”. Hulle studeer Kuns en Kultuur asook Administrasie en Projekbestuur.
Koinonia bied steeds rekenaaropleiding aan by hulle Spacebar-perseel te Swartvleistraat 5, waar Nicolene Galant optree as bestuurder/fasiliteerder.
Met die hulp van die Wynland Distriksmunisipaliteit en finansiële steun van die Gesondheidsdepartement, bied Koinonia ook ’n HIV/Vigs ondersteuningsprogram aan werklose jeugdiges tot einde vanjaar.
Vir meer inligting oor Koinonia kan hulle besoek word by Bredastraat, Paarl. Bel hulle by 021-872-2141/2 of epos koinonia@tiscali.co.za.
More
News
|