Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Rugbyster sterf tragies

Rugbyster sterf tragies
 
2007-07-26


’n BELOWENDE jong rugby-speler van die Paarl is Dinsdagaand in ’n tragiese ongeluk dood in die Vrystaat.

Ashley Mapisa (22) het as ster-heelagter vir die Griffons rugby gespeel en was ten tyde van die ongeluk saam met spanmaats onderweg na ’n oefensessie toe die noodlot getref het.

’n Wiel van die voertuig waarmee hulle gery het, het naby Welkom gebars, waarna dit omgeslaan het.

Twee Griffons-spelers is dood, een is verlam en nog drie spelers is beseer.

Ashley was ’n oud-leerder van New Orleans Sekondêr en het reeds hier diep spore getrap op die rugbyveld.

Hy het vir New Orleans se o.19A rugbyspan uitgedraf en speel al die afgelope drie jaar vir die Griffons.

Hy was onder andere vroeër vanjaar op Rassie Erasmus se kortlys vir die Curriebeker Cheetah-span.

“Ashley was ’n uiters belowende atleet en het ook Boland-kleure verwerf vir landloop,” het Henkie Green, onderwyser van New Orleans Sekondêr, gesê.

“Hy het egter ook op die rugbyveld geskitter en het besluit om eerder in dié rigting te gaan om vir hom sodoende ’n loopbaan in rugby oop te speel.

“Ashley was ’n wonderlike seun en sou nog ver gekom het op die rugbyveld. Ons gaan almal vir hom mis.”

Sy bedroefde ma, Maggi, het vanuit haar huis in Smartietown gesê dat haar seun haar staatmaker was wat altyd vir haar kom kuier het wanneer hy ’n kans gehad het.

“Hy was laas week hier en het vir my gesê dat hy wil laat aanbou aan my huis. Nie net het ek my seun verloor nie, maar my broodwinner ook.

“Hy het daarna gestreef om eendag vir die Springbokke te speel en was opgewonde oor hul kanse in vanjaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi.”

Ashley word oorleef deur sy ma en drie broers, Richard (34), Alfred (27) en Quintin (17).

Begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za