Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Petro oppie Stoepe

Petro oppie Stoepe
 
2007-08-08

May Saal

DIE Paarliet Petro Rhode, ’n sprankelende skrywer wat die vermoë het om uitmuntend te verwoord wat in ’n vrou se hart aangaan, tree volgende week Donderdag gedurende Afrikaansweek by die Stoepe in Paarl-Oos op “Met Vers en Melodie”.

Petro maak in “Oppie Stoepe” gebruik van haar eie ervarings om ’n skilderdoek te skep waarop sy dan haar ryke en uitgebreide woordeskat soos kleur kan aanwend om prentjies te skep en dan verhale te vertel van haar wêreld met al sy hoogte- en laagtepunte.

Rhode het onlangs van haar beste werk gebundel, dit self voorgelees en op ’n skrywer-CD, Ontvlugting, bekend gestel.

Haar inspirasie en bron vir skryf bly eerstehandse ervaring.
Sy was veertien jaar lank ’n pastorievrou en skryf ook graag oor dinge met ’n geestelike aanslag.

Oor die vraag of sy haar stories tik of skryf, vertel sy met ’n breë glimlag: “Ek skryf my stories met die hand uit en dan as ek voel dit is nou reg, dan tik ek dit oor.

“Dit is ’n lekker gevoel met die pen,” het die op-die-grond vrou hierdie week gesê in ’n onderhoud met die Paarl Post.

Sy vertel verder dat ’n man van Durbanville, wat sy net ken as oom André, haar op ’n dag gebel en gesê het dat hy halfblind is.

“Hy het baie opgewonde vertel hoe lekker dit vir hom is om die stories wat hy so graag wou lees, maar nie kan nie as gevolg van sy half-blindheid, nou op CD te kan luister."

Rhode se skrywersloopbaan het ses jaar gelede ná ’n skrywerswerkswinkel by die Universiteit van Stellenbosch momentum gekry.

Vandag help sy jong skrywers deur haar toegewyde ondersteuning van projekte van die Afrikaanse Skrywersgilde en Kraakvars, ’n tydskrif wat sy vir nuwe skrywers geskep het.
Behalwe skryf en voorlees, verf Rhode ook.

“Ek verf op lap en keramiek. Ek is nou besig om op klip te verf, wat gebruik kan word as deurstoppers. Dit wil ek by gastehuise bemark,” vertel sy opgewonde.

Sy is ook besig met ’n manuskrip wat begin het by ’n geestelike bundel en kortverhale.

“Elise Parker, van die Leef tydskrif, is my mentor. Sy gaan al my werk deur. Sy gee my ook spertye vir my werk, en dit is goed vir my, want dit hou my gedissiplineerd,” vertel sy met duidelike agting vir haar mentor.

Petro spesialiseer, volgens Parker, daarin om die geestelike nader te trek, “’n rare kwaliteit wat ’n dieper, geestelike dimensie aan haar skryfwerk verleen wat so dikwels in skryfwerk ontbreek.”

“Sy ken die kuns om ’n leser in te trek en het ’n sleutel of twee wat sy draai om emosies oop te sluit.

“Sy is bekwaam in vele skryfgenres en dit is juis die veelsydigheid wat sal maak dat sy nog ’n verskil sal maak om vir ons stories en verhale en vertellings, maar veral ’n perspektief, te bring wat ons almal se lewens en Afrikaans kan verryk,” het Parker met die bekendstelling van Rhode se skrywer-CD gesê.

Petro se optrede Oppie Stoepe begin om 19:00.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za