Hollanders maak harte bly
2007-08-30
Malané Bosman
VIER jaar gelede het ’n egpaar uit Holland hul aangenome babaseuntjie in Suid-Afrika kom haal. Hulle was dadelik verlief op die land.
Twee jaar gelede was Erik de Gier en sy vrou Saskia weer op Suid-Afrikaanse bodem. Toe het hulle vir klein Zoë (toe drie maande) aangeneem en teruggereis na Holland.
“Maar ons wou net terugkom. Suid-Afrika het ons harte gesteel,” vertel Erik met kleuters wat aan sy bene klou en oor hom klouter.
Vandag werk hulle as vrywilligers by die Khanya gemeenskapsentrum in Mfulenistraat in die New Rest woonbuurt tussen Wellington en Mbekweni.
Oupa Koos Nel en ouma Nix het saamgekom en die familie het hulle in Wellington gevestig.
“Ons het geweet ons moes gaan terwyl die kinders nog klein is en nie te veel vriende in Holland sou hê, of by die skool en sport daar ingeskakel sou wees nie,” sê Erik.
Hy en Saskia, altwee onderwysers, het ’n jaar lank by hul onderskeie skole in Leerdam afgeneem nadat hulle twaalf maande lank die reis na Afrika beplan het.
Oupa Nel is ’n koördineerder van vrywilligerwerkers in Holland. Met die projek “baiedankie” is geld ingesamel vir die familie se koms en ook om hier vir ’n goeie doel aan te wend.
Met die kontak van die aannemingsorganisasie het hulle die naam van Marietjie Bezuidenhout en haar Khanya, die nuutgestigte crèche cum Vigs en TB-beradingskantoor en sopkombuis, gekry.
“Ons het net twee voorwaardes gestel. Daar moes kinders wees vir wie ons van hulp kon wees, en dit moes veilig wees vir ons eie kinders.”
Hul biologiese seun, Jory (7), is ingeskryf by Hugenote Laerskool op Wellington. Sipho speel saam elke dag by Dwergiebos Kleuterskool en Zoë kuier nog om haar ouers se bene.
Die Hollanders help geleenthede reël waar vroue van die omgewing onthaal word, soos met Vrouedag, en help hulle met kosmaak en opvoeding en ontspanning vir die kinders.
Hulle maak tuin en bou en verfraai die klaskamers, kliniek en kombuis op die perseel en gaan uit in die wyk om meer kinders te bereik.
“Daar is nou 49 kleuters en babas in die crèche, met 30 op die waglys,” vertel Erik.
“Maar met meer hulp en geboue kan ons die waglys help verkort.”
Oor twee weke kom Erik se broer en dié se vriendin vir vyf maande na Wellington om ook hand by te sit.
En of die Hollanders ooit weer sal kan teruggaan? Dalk nie, te oordeel aan hoe hul oë blink en hoe gelukkig die drie kinders tussen hulle dosyne nuwe maatjies is nie.
* A Dutch couple has taken a year off teaching in their home country to do voluntary work outside Wellington.
More
News
|