Studente betoog by Hugenote
2007-08-30
STUDENTE aan die Hugenote Kollege op Wellington het verlede Woensdag luidkeels betoog teen die kollegebestuur, in die aanloop tot die studenteraadsverkiesing volgende maand.
Onder die klagtes was swak kos, stygende studiegeld, swak biblioteekfasiliteite en swak kommunikasie met die studenteraad.
Die optog is gelei deur die voorsitter van die studenteraad, Nathan van Staden.
Volgens Van Staden is daar ’n kommunikasiebreuk tussen die studenteraad en die kollegebestuur.
“Die studente eis groter verteenwoordiging op alle vlakke asook transformasie van bestuur om die demografie van die studentegemeenskap te weerspieël.
“Nog ’n bekommernis is die onlangse kennisgewing van Unisa dat dié universiteit sy kontrak met die kollege opskort. Daar word gevrees dat sommige ingeskrewe studente nie hul kursusse sal kan voltooi nie.”
Volgens prof Johan Viljoen, rektor van die kollege, is die bestuur bewus van die tekorte wat die biblioteek betref.
“Daar word beplan om stelsels, soos elektroniese toegang, by die biblioteek op te gradeer. Daar moet egter vir sulke verbeteringe begroot word, dit kan nie oornag gebeur nie.
“Wat studiegeld betref, word ’n redelike verho-ging van 6% in klasgeld oorweeg, wat voorwaardelik deur die uitvoerende komitee van die kollegeraad goedgekeur is.
“Wat die ooreenkoms met Unisa betref: Ons het dit aan die uitvoerende bestuur van Unisa duidelik gestel dat ons nie gekant is teen die uitfasering van die kontrak nie.
“Afstandsonderrig-inrigtings word volgens wetgewing verbied om met residensiële instellings in vennootskap te wees.
“Volgens ons kontrak moet hierdie opskorting binne ’n kennisgewingperiode van vyf jaar uitgefaseer word, sodat geen student benadeel word nie.
“Ons het wel ’n probleem met die kort kennisgewing, en onderhandel tans met Unisa om nie die ooreenkoms vir die geen-inname van eerstejaarstudente reeds in 2008 in te faseer nie.
“Dit sal ons tyd gee om te onderhandel met ’n ander sertifiserende inrigting, byvoorbeeld ’n residensiële universiteit, om ons studente se grade toe te ken.
“Daar is verstaanbare kommer onder die studente, maar daar is inligtingsplakkate aangebring en saalbyeenkomste gehou om hulle oor die ware situasie in te lig.
“Onderhandelinge met Unisa duur voort, en ons kry regsadvies oor hoe om die saak verder te voer, aangesien studente reeds gekeur is vir kursusse vir 2008.” - Anne Kruger
More
News
|