Wonderkamer breek tikverslawing
2007-09-06
DAAR gebeur nog steeds wonderwerke, soos wat Bobby Ronalds* ’n gerehabiliteerde dwelmslaaf by die St Joseph AME-Kerk Tikkamer in Bougaardstraat, Paarl-Oos, kan getuig.
“Tik is my naam en jy kan my dalkies die eerste keer ontglip, maar probeer my vir ’n tweede maal soos wat jy so graag wil, en jy’s myne!” vertel hy oor die effek wat Tik op hom gehad het.
Bobby vertel dat hy vir die afgelope twintig jaar ’n dwelmverslaafde was, maar dat hy tans vir die afgelope vyf maande skoon is.
“Ek is vrouloos, vriendloos en werkloos en het glad nie meer geweet watter kant toe nie. Selfmoord het baie aanloklik gelyk in die skaars tye van helderheid, maar gewoonlik was ek maar “gedrug”.
“Ek het alles probeer - van dagga, kokaïen, mandrax en heroïen.
Wanneer ek ’n “fix” nodig gehad het en daar was nie geld of iets anders byderhand nie, het ek naftaleenbolle (mothballs) en ’n bietjie Rattex (rottegif) fyngemaak met babapoeier en dit gesnuif.
“Die verligting van die dwelmlus was net tydelik en liggaamlik het ek erg agteruitgegaan. My vel het vol kolle geword.”
Sy oë raak vol trane toe hy verder gaan.
“Toe het ek Tik probeer, maar hoor vir my - dis die ergste vorm van verslawing, want dis byna oombliklik! Gebruik jy hom en jy’s omtrent gehoek. Tik is die duiwel self,” sê hy.
Hy vertel dat met die heel eerste probeerslag het dit vir hom gevoel of die drade in sy brein “short circuit.” Die gevoel was hemels agterna en hy was behoorlik “high” en het vir alles kans gesien.
“My seksdrang was oorweldigend en ek wou net vroumense bykom, want hulle het die vreemdste aantrekkingskrag en bekoring gehad.
“Maar o wee, die gevoel wat jy kry as die dwelm onttrek en die drang daarna terugkeer, maak dat jy soos ’n vasgekeerde dier voel. Jy beraam allerhande planne om weer Tik in die hande te kry, maak nie saak hoe nie!”
Bobby vertel dat hy toe van die Tikkamer by die AME-Kerk gehoor het en het besluit om eerwaarde Keith Links daar te kontak. Hy vertel dat dit vir hom ’n kwessie van lewe of dood geword het.
“Ek moes kies en het hulp dringend nodig gehad.” Eerwaarde Links vertel dat toe hy Bobby die eerste keer gesien het, het sy hart uitgegaan na hom. Hy kon sien dat hierdie man op sy laaste bietjie krag was.
“Hy’t my vertel dat hy by ’n visteelplaas in die omgewing werk en goed geld verdien. Die geld was sy ondergang, want met die oorvloed daarvan, het hy dit begin spandeer op dwelms. Die res is nou geskiedenis.”
By die Tikkamer is Sarita Oosthuizen die berader en Monica Samaai die groepleidster. Saam met Links is hulle ’n gedugte span nadat Links die ernstige behoefte in die gemeenskap geïdentifiseer het vir hulp aan dwelmverslaafdes.
Hul behandeling is volgens die “Tough Love” metode en die eerste paar dae van onttrekking is die ergste.
Sarita vertel: “Dis hartverskeurend om ander so te sien ly, maar ons byt vas. Dis in hierdie tyd dat hulle die meeste ondersteuning nodig het en mens kan sien dat die onttrekkingsimptome hulle heeltemal uitput.”
Sy sê dat hulle aanvanklik begin het met ’n groepie van omtrent 20 lede, hulpbehoewendes ingesluit, maar het reeds gegroei tot oor die 45.
Volgens haar is daar baie werk met kos wat voorberei moet word vir maaltye en dat donasies hiervoor meer as welkom is.
Eerwaarde Links sê dat hulle beplan om nog meer sigbaar te word en ondersoek kanale vir bemarking van die Tikkamer omdat alle bietjies help.
“Bobby en Chris Mei (ook ’n skuilnaam), nog ’n gerehabiliteerde, is ons suksesverhale, want hulle is nou al skoon vir ’n geruime tyd.
Hulle het ook nie teruggeval in die verslawing nie, al bevind hulle hulself nog in omtrent dieselfde omstandighede. Ons is trots op hulle.”
Chris is egter nog skugter om sy verhaal aan almal te vertel, want hy sê dat hy weet dat baie van Bobby se familie en vriende hom verstoot het oor sy verslawing.
Hy vrees dat dit ook met hom kan gebeur.
Sarita sê dat dit seker die verkeerdste ding is van geliefdes om so iets te doen, maar sy kan verstaan dat dit ’n natuurlike, menslike reaksie kan wees.
Nog ’n gerehabiliteerde, Hennie Hendriks* vertel dat hy omtrent R360 000 se pakketgeld oor ’n tydperk van drie jaar op dwelms uitgemors het, want hy was voorheen aan “buttons” (Mandrax) verslaaf.
Dis eers vandat hy die Tikkamer besoek en tot bekering gekom het dat hy weer lewensrigting het.
Die Tikkamer-mense vergader twee maal per week, Dinsdae en Donderdae, tussen 10:00 en 12:00 by die kerk in Bougaardstraat, Paarl-Oos. Kontak gerus vir eerwaarde Keith Links by 021-862-1954.
(*skuilnaam),
** A congregation is successfully counselling drug addiction in Paarl East.
More
News
|