Vrou oorleef fietsongeluk
2007-09-13
’n MOTORFIETS-GEESDRIFTIGE van die Paarl is twee weke gelede ernstig beseer toe sy op haar blink nuwe motorfiets in ’n vragmotor vasgeploeg het.
Retha Nel was in ’n groep van 50 motorfietse wat vir die naweek ’n 1000 km toer onderneem het na Barrydale en terug na die Paarl.
Nog ’n motorfietsryer is op dieselfde toer dood toe hy ’n bobbejaan getref het.
Nel vertel dat hulle uit Ceres gery het op die pad na Touwsrivier toe sy ’n vragmotor van voor sien aankom het.
“Dit is die laaste ding wat ek kan onthou.
“Volgens die merke op die pad het dit voorgekom asof die vragmotor ’n draai gesny het en in ons baan beland het.”
Nel is met ernstige beserings na die Ceres Hospitaal geneem, maar weens die erns van haar toestand is sy oorgeplaas na Tygerberg Hospitaal.
Sy het eers drie dae ná die ongeluk haar bewussyn herwin.
Met skok het sy besef dat sy twee vingers en ’n gedeelte van haar hand verloor, haar heup en been gebreek, asook nog ’n vinger gebreek het. Sy het ook veelvuldige kneuswonde opgedoen.
Van haar splinternuwe Suzuki 1200 motorfiets het net flenters oorgebly.
Na tien dae is sy oorgeplaas na Paarl Hospitaal en hieroor is sy verlig.
“Dié hospitaal is soos ’n vyfster-hotel in vergelyking met Tygerberg.”
Die groep motorfietsryers het voortgegaan met die toer en die dag ná haar ongeluk het die noodlot weer getref, toe ’n groot bobbejaan voor Wickus Swart van Worcester ingehardloop het naby Montagu. Swart het op die toneel gesterf.
Nel, ’n tuindiens-spesialis by Pearl Valley, sal nou vir maande buite aksie wees.
“Talle inwoners van Pearl Valley het reeds vir my kom besoek en gesê dat hulle nie kan wag totdat ek weer op die been is nie. Dit gaan ek so gou moontlik probeer doen.”
Volgens Nel gaan hierdie ongeluk nie vir haar afskrik om motorfiets te ry nie.
“Ek gaan dalk sukkel sonder my twee vingers, maar ek is seker dat ek sal regkom.”
* A motorcycle enthusiast from Paarl is lucky to be alive after a head-on collision with a truck.
More
News
|