Radio KC vier elf gesels-jare
2007-09-20
David Joshua
OP Erfenisdag sal dit elf jaar gelede wees wat Radio KC die lug gesien het op 107.7FM. Dié gemeenskapsradio saai steeds suksesvol uit.
Die radiostasie, die breinkind van ‘n groep jongmense wat ‘n verskil wou maak in hul gemeenskap, is in 1996 deur die Koinonia Gemeenskapsentrum geïnisieer.
Op 24 September 1996 is die eerste keer uitgesaai met ‘n tydelike uitsaailisensie. Van 1996 tot 2001 het die radiostasie verskeie kere uitgesaai met ‘n tydelike lisensie, voordat die stasie in Julie 2001 sy permanente lisensie ontvang het.
Hulle het daardie jaar op 6 Desember begin uitsaai van die jaarlikse Paarl Liggiefees. Die radiodiens is sewe dae ’n week, 24 uur per dag op die lug.
“Ons visie is om ons luisteraars in te lig, bemagtig, op te voed, te verander en natuurlik te vermaak,” sê stasiebestuurder Esmeralda Meyer.
Sy is ’n voormalige direksielid, programbestuurder, administrateur en omroeper by KC en was ook ’n stigterslid.
“Radio KC bedien die Bolandstreek insluitend Paarl, Wellington, Stellenbosch, Saron, Hermon, Gouda, Franschhoek, Riebeek-Kasteel, Riebeek-Wes, Malmesbury, Tulbagh, Wolseley, Porterville en selfs, Elsiesrivier, Belhar en Kraaifontein,” sê sy trots.
Die radiostasie het ook al sy hoogtepunte en laagtepunte gehad, waaronder getel word die skielike afsterwe in 2005 van sy geliefde omroeper, DJ Warren.
Kort daarna het ook die dood van stasiebestuurder en direksielid Ron Hendricks gevolg.
Nuusredakteur Earl September sê, “Die oorgrote meerderheid van die stasiepersoneel doen vrywillig diens.
Die stasie het die afgelope elf jaar heelwat omroepers en klank-ingenieurs sien kom en gaan en lewer goeie programme.
“KC-landers kan uitsien na nog elf jaar van puik radiodiens as dit van ons almal afhang,” het September afgesluit.
“Baie dankie aan ons luisteraars wat so getrou ingeskakel bly en gereeld inbel.”
More
News
|