Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Die hemel se vensters versorg

Die hemel se vensters versorg
 
2007-09-27

Malané Bosman

AS Bertie Smit en Retha Jordaan van die Paarl eendag in die hemel kom, sal hulle nie net die huis met die meeste vensters kry nie, maar ook ’n bondel skuurwol om die vensters skoon te hou.

Want van vensters regmaak en skoonmaak kan jy hierdie twee vroue van die Toringkerk-gemeente net mooi niks vertel nie.

Die afgelope twee jaar het hulle vrou-alleen elke liewe venster van die 100 jaar oue kerk onder hand gehad.

“Dit was daardie berig in die Paarl Post in 2004, oor die loodglasvensters wat so stukkend gegooi word, wat by my gespook het,” vertel Bertie.

Sy het destyds haar stokperdjie, om met loodglas te speel, haar besigheid gemaak, en toe haar dienste aan die kerkraad gebied.

Maar alleen kon sy dit nie doen nie. Die vensters kon nie uitgehaal word nie en iemand moes agter help vashou. Bowendien wou sy darem die reuse-taak binne haar leeftyd kon afhandel.

Haar jarelange vriendin, Retha Jordaan, is touwys gemaak en toe kon Bertie en haar handlanger aan die werk spring.

Hulle het op die stellasies geklouter wat juis toe deur verwers gebruik is. Meestal het hulle agt meter bo die grond gestaan en werk, en soms tot elf meter hoog, aan bande vasgemaak.

Stellasies is ook vir hulle bo-oor die banke gebou sodat hulle van binne af kon werk.

“Ons het allerhande maniere uitgedink om by die glas by te kom,” vertel hulle.

“Nou het ons beslis goeie rugspiere!”

Die twee dienende Marthas het ’n eeu se aangepakte vullis van die vensters afgeskuur met droë staalwol wat nie die glas krap nie.

In die toring was daar ’n hoop van die oorspronklike glas. Dit is afgedra, op maat gesny, en gebruik om die gebreekte ruite te vervang.

Honderde draadjies is gebruik om die los glas en gebuigte ruite te herstel. Lood is gesoldeer en die glas ingesit met kilogram op kilogram klei om dit te verseël.

Die 56 vensters op die grondvloer het elk 149 glasies in loodraampies. Die 24 groter vensters op die eerste verdieping het elk 612 ruitjies.

Die vier groot ronde vensters, elk met 25 kleiner venstertjies, het duisende ruitjies in loodraampies.

Dan het hulle ook 14 vensters in die portale (elk met 188 ruitjies) en nog 16 in die toring, bygedam.

Net twee vensters kon uitgehaal word. Dié het staalrame, en dit word nou met hout vervang en gerestoureer voordat dit eersdaags teruggesit sal word.

“Nou is daar nie meer ’n krakie of ’n stukkende glas in die kerk nie,” het die twee vroue hierdie week trots gesê.

“Niemand het seker oor twee jaar so baie kerk bygewoon soos ons twee nie,” spot Bertie.

“Ons was teen elke ruitjie in die kerk en ons het op elke sitplek in elke hoek gesit - beplan, gerus en tee gedrink.”

* Two Paarl women took it upon themselves to replace and restore every single lead glass window pane in the century old Toringkerk in Main Street.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za