Saam-saam word droogte bestry
2007-10-11
Lise Beyers
“MANNA uit die hemel!”
Dit is hoe die Karoo-boere uit Williston die afgelope naweek se Strooidakerk-Williston Fees in die Paarl beskryf.
Dit is reeds die vierde fees van sy soort wat gehou word en steeds groei dit van krag tot krag.
Hierdie besonderse fees lok Bolanders van heinde en ver om hul te kom verlustig aan die oorvloed van Karoo-lamprodukte wat persoonlik deur die Williston NGK-gemeente voorberei word.
Van Vrydag- tot Satermiddag brand die braaivure hoog om genoeg kole te voorsien vir die reuse-hoeveelheid lam wat gebraai word.
Van skilpadjies tot die heerlikste sosaties is op die spyskaart vir die vleislustige publiek.
Die gemeenskap van Williston is reeds vyf jaar lank in die wurggreep van ’n erge droogte.
Slegs 80 boere in die distrik dra die kerk op die dorp en weens die droogte is almal finansieel in die knyp.
Dus het die gemeente gesukkel om te oorleef en die Strooidakkerk genader om raad.
Die idee van ’n gesamentlike basaar is gebore, met die groot aantrekkingskrag die lamsvleis.
Annette Jooste, boervrou van Williston, vertel dat met die eerste fees is agt en ’n half ton lamsvleis verkoop. Na slegs drie jaar het die hoeveelheid reeds verdubbel.
“Bo en behalwe die ongeveer 700 lammers wat geslag word vir die Paarliete, bring ons 500 afvalle, 250kg maalvleis, 100 skaapkoppe en 3500 skilpadjies (lewer in netvet) saam.
“’n Allemintige ton boerewors word gemaak, asook 6000 sosaties. Hierdie sosaties word slegs van boudvleis gemaak en dit is ongeveer 230 lammers se boude.
“Ander lekkernye wat vinnig uitverkoop, is ons boerbeskuit, roosterkoeke en skuinskoeke, waarvoor die Karoo bekend is.
“Dit is vir die hele gemeente ’n groot voorreg om hierby betrokke te wees en veral die ou mense help met die ryg van die sosaties en die maak van die skilpadjies.”
Verder vertel sy dat die droogte hulle ekonomie tans so erg knou dat die lammers ongeveer 10kg minder weeg as gewoonlik wanneer hulle slaggereed is.
“Vanjaar kon ons ook nie springbok-droëwors en biltong saambring nie, want die springbokke vrek reeds van die droogte.”
Al die inkomste van die verkoop van die vleisprodukte word teruggeploeg in die Williston NG gemeente.
“Hierdie gelde word gebruik om die algemene voortbestaan van ons gemeente te finansier, asook vir uitreikprogramme en ledemate wat in die nood is.”
Die Strooidakkerk het nog ’n verdere tree gevat om van hulp te wees. Wanneer dit Williston se basaar is, trek Strooidakgemeentelede op na Williston met ’n vrag snoek wat gebraai word. Dan is die Karoo weer pure Boland.
Die fees het vanjaar egter nie sonder insidente plaasgevind nie. Daar is by een van die koeltrokke wat die vleis vanaf Williston vervoer het, voor die Strooidakkerk ingebreek en 14 skaapkarkasse is gesteel.
Enigiemand wat inligting hieroor beskik, kan vir sers Jerome Steenkamp skakel by 073-160-8776.
* The annual combined festival of the NG churches Strooidak and Williston has once again proven to be a huge success, helping the Willistonners cope with a destructive drought.
More
News
|