Bekende orrelis oorlede
2005-06-09
‘n BEKENDE musiekonderwyseres, orreliste en koorleidster van die Paarl, Elsa Lubbe, is Sondagoggend in die Louis Leipoldt hospital in Bellville oorlede na ‘n lang stryd teen kanker.
Sy is in Augustus 2003 met kanker gediagnoseer en is sedertdien daarvoor behandel.
Sy het haar musiekopleiding aan die Universiteit van die Vrystaat ontvang. Nadat sy en haar man, wyle Scholtz Lubbe, na die Boland verhuis het, was sy aanvanklik op Stellenbosch by Wever Musiekhandelaar werksaam.
Nadat hulle in die Paarl kom woon het, was sy vir etlike jare verbonde aan die Laerskool La Rochelle en was orreliste van die Toringkerk.
Later het sy klas gegee by die Bellville Musiek Akademie, waarna sy aangesluit het by die musiekdepartement van Hoër Meisieskool Paarl, waar sy vir die afgelope sewe jaar blok- fluit- en teorie-onderrig gegee het.
Sy was ook verantwoordelik vir klavier en musiekteorie-onderrig by die Frank Pietersen Musieksentrum.
Lubbe was besonder lief vir koorsang en was ‘n lid van die Kaap- se Simfoniekoor, Kaapse Filharmoniese Koor asook van die Bellville Stadskoor.
Sy het die Paarlse Kamerkoor afgerig en was ook vir ‘n tyd lank die dirigent van die Duitse Mannekoor.
Afgesien hiervan was sy vir etlike jare as sekretaresse betrokke by die Weskaap Streekbestuur van die Suid-Afrikaanse Kerkorreliste Vereniging.
“Elsa Lubbe se oorlye laat ‘n groot leemte in die musiekgeledere van die Paarl. Ons eer die nagedagtenis van hierdie hoogs begaafde vrou,” het kollega Etresia Hendricks gesê.
‘n Huldigingsdiens word Vrydagmiddag om 15:00 in die Gereformeerde Kerk in Stirlingstraat gehou, na ‘n private verassing.
More
News
|