Molenaar daag ander firmas uit
2007-10-18
WIL jy graag plaaslike welsynsorganisasies help? HG Molenaar het vandeesweek die eerste plaaslike firma geword wat vanjaar ’n bydrae gemaak het aan die Paarl Post Kersfonds en hulle daag ander ondernemings om hul bydrae van R2500 te klop.
Alle skenkings van lesers gaan aan plaaslike welsynsorganisasies deur die Wes-Kaapse Gemeenskapskas, wat sowat 30 verdienstelike plaaslike organisasies steun.
Die Gemeenskapskas maak reeds aansienlike bydraes tot welsynsorganisasies in die Paarl Post se lesersgebied (sowat R500 000 per jaar) en lesers word uitgenooi om dié poging ’n hupstoot te gee met bydraes deur die Paarl Post Kersfonds.
Alle bydraes aan die Paarl Post Kersfonds word in ’n afsonderlike bankrekening inbetaal en deur die Gemeenskapskas teruggeploeg in die Paarlvallei - geen bydraes van ons lesers sal aan begunstigdes buite die Paarl Post se lesersgebied uitbetaal word nie.
Organisasies wat deur die nuwe Paarl Post Kersfonds gesteun word, sluit in die ACVV-takke in Paarl/Wellington/Franschhoek, Rusoord ouetehuis, Oasis bejaardesentrum, Paarl & Distrik Kindersorg, Ikwezi gemeenskapsentrum se program vir Vigswesies in Mbekweni, Franschhoek Family in Focus, Wellington Abbeyfield tehuis, Badisa (die VGK se barmhartigheidsarm in Wellington en Paarl), Huis Andrew Murray kinderhuis, CareCraft Wellington (werkswinkel vir epilepsielyers), Franschhoek Legal Advice Centre, Drakenstein Association for the Physically Disabled, Mosaic hofondersteuningsdiens, Sanca (Raad teen afhanklikheid van alkohol en dwelms) en Rapcan (steun van getuies in verkragtingsake).
Boonop is ’n groot aantal kleuterskole en naskoolsentrums ook begunstigdes van die Paarl Post Kersfonds.
Dit sluit in Kairos Educare (Simondium), Bovlei Creche, Wieliewalie bewaarskool, Drakenstein bewaarskool, Little Stars en die bewaarskole Lingelihle, Little Flower, Masibulele, Masincedane, Nompumelelo, Sinethemba en Siyakhula asook naskoolsentrums Mamzama, Sinethemba en Rise & Shine.
Slegs formele organisasies wat geouditeerde state indien van hul uitgawes, word deur die Gemeenskapskas gehelp met fondse. Die voorsitter van die Gemeenskapskas in Brian O’Connell (rektor van UWK).
Die Gemeenskapskas benut alle leserskenkings om welsyn te steun - administrasiekostes word verhaal uit ander bronne, soos erflatings.
Stuur skenkings aan Paarl Post Kersfonds, Posbus 248, Paarl 7620. Alle skenkings word in die Paarl Post erken.
Skenkings kan ook direk inbetaal word in die Gemeenskapskas/Paarl Post Kersfondsrekening 62152029007 by FNB (taknommer 261150) en faks die strokie na 021-872-9280 (aandag Kersfonds).
* Organisasies wat wil registreer as begunstigdes van Gemeenskapskas, kan Liezl Leibbrandt kontak by Liezll@comchest.org.za of tel 021-424-3344 of 082-200-3738.
More
News
|