Daar is nog barmhartiges hier
2007-10-25
David Joshua
DAAR is nog baie barmhartige samaritane in die Paarl-omgewing. So meen Thys de Coning, maatskaplike werker van Badisa, die barmhartigheidsbediening van die VGK en die NG Kerk, wat deur die Paarl Post Kersfonds gesteun word.
“Ek is soms verstom oor die welwillendheid binne ons gemeenskap, veral die plakkersgemeenskappe, omdat hierdie mense in sulke haglike en armoedige omstandighede woon,” sê Thys.
“Ek verstout my om te sê dat baie mense dink en verwag dat daar altyd net slegte dinge hier aangaan, maar dis nie so nie.
“Dié welwillendheid word duidelik weerspieël deur die aantal pleegouers wat hul dienste en huise beskikbaar stel om kinders in nood te akkommodeer.”
Een so ’n samaritaan is Cornelia Swarts wat onlangs ’n toekenning vir diens ontvang het van die Drakenstein Sentrum vir Gestremde Persone. Sy stel al jare as ’n pleegmoeder van Badisa Paarl haar dienste beskikbaar aan veral moeilik plaasbare kinders.
So help sy veral kinders met fisiese gestremdhede om te voorkom dat hierdie kinders in nood binne inrigtings geplaas word.
Die naam Badisa is ’n kombinasie van barmhartigheid (Ba), diens (di) en saam (sa), maar dit is ook ’n Tswana-woord vir “herder” of “versorger”.
Daar is ’n tak in die Paarl, met hul administratiewe kantore by die Zionskerk langs die Paarl-Oos swembad, wat gesinsorgdienste lewer aan die inwoners van Paarl-Oos en Huguenot.
Die Wellington-tak geleë te Pentzstraat 27 bedien die inwoners van Wellington.
“Die bedieningsprogram fokus veral op hoë risiko-gesinne waar kinders blootgestel word aan gesinsgeweld, kinderverwaarlosing, kinderverlating en seksuele molestering,” sê De Coning.Badisa is ook betrokke by Kindersorg se projekte en by die “Woman of Courage-projek” wat op gesinsgeweld fokus en vroue bemagtig en ondersteun.
More
News
|