Wind wou eeufees kelder
2007-10-25
DIE spoggeleentheid met die honderdjarige bestaansviering van Bovlei Wynkelder by Wellington, is verlede week byna deur die Suidooster gekelder.
Die reuse tent wat voor die kelder opgestel is, is Woensdagnag aan flarde geskeur. Die boere van die Bovlei het geweet, terwyl die wind wit oor die Hawekwaberge borrel, sou ‘n ander plan gemaak moes word.
Met Anna Cillie, vrou van direksievoorsitter Pieter Cillie van Onverwachtplaas aan die stuur, is die rooitapyt-dinee na die Hugenote Hoërskool verskuif.
Bovlei is Suid-Afrika se tweede oudste bestaande koöperatiewe wynkelder. In 1907 het ‘n paar druiweboere van die Bovleivallei en Wellington omgewing die totstandkoming van die Bovlei Koöperatiewe Wynkelder bewerkstellig.
Die Bovlei Centenary reeks is vanjaar geloods om die 100ste bestaansjaar met ‘n nuwe handelsmerk te vier en dit is die afgelope maande plaaslik en internasionaal op vyf wynkompetisies bekroon.
Die reeks bestaan uit die Shiraz-Mourvedre 2005, Merlot 2005, Shiraz 2005 en Cabernet Sauvignon 2005.
Die Bovlei Centenary Shiraz-Mourvedre 2005 is vandeesmaand by die Internasionale Wyn- en Spiritualië Kompetisie in Londen met goud bekroon en aangewys as die beste Shiraz-gebaseerde rooi versnit uit Suid-Afrika se wynstreke.
Dieselfde wyn is vroeër vanjaar by die SA Terroir Wyntoekennings aangewys as die Top Rooi Versnit in die groter Paarl wyndistrik.
Die Bovlei Centenary Merlot 2005 het so pas ‘n goue Veritas Toekenning ontvang en is ook vroeër vanjaar by die SA Terroir Wyntoekennings aangewys as die Top Merlot in die groter Paarl wyndistrik.
Die Bovlei Centenary Shiraz 2005 het in WINE tydskrif se 2007 Pick ‘n Pay Shiraz Challenge drie-en-half sterre ontvang.
Die standaard Bovlei reeks het ook vanjaar sy merk gemaak met die Bovlei Pinotage 2005 wat met goud bekroon is by die Michelangelo Internasionale Wyntoek.
“Voortdurende innovering en deurlopende hoë gehalte is die sleutel tot sukses,” sê Marius Erasmus, hoofbestuurder van Bovlei Wynkelder.
Na 100 jaar het Bovlei 38 wynproduserende lede wat jaarliks ongeveer 8 000 ton druiwe lewer.
Elkeen van die wingerdplase het sy eie mikro-klimaat en grondsoorte en die wingerde floreer in die skoon lug van die omgewing.
Volgens Frank Meaker, keldermeester van Bovlei, is dit ‘n pluspunt dat Bovlei se wyne eiesoortig is weens die diverse terroir.
“Die diversiteit van die Bovlei druiwe is afkomstig vanaf unieke samestellings van die verskillende druif terreine, onder meer die Bovleivallei, voor en agter Groenberg, Hawekwaberghange en Perdeskoen.”
Die voorsitter van Bovlei Wynkelder, Pieter Cillié, het tydens die viering ‘n oorkonde ontvang vir sy en sy familie se bydrae die afgelope dekades en hy het in sy toespraak verskillende prentjies geskets wat tot vandag se sukses gely het.
“Al het die prys teen 1914 gedaal tot minder as drie pond per lêer (571 liter), het nuwe aandeelhouers by Bovlei aangesluit en is bykomende wyntenks en ‘n wynkelder aangebou.
“Sedert die totstandkoming van die KWV in 1918, elf jaar na ons, het dit finansieel baie beter gegaan met die wynkoöperasies.
“Met die vasstelling van goeie wynpryse in 1940 het die ordelike bemarking van die produk van die wingerdstok tot stand gekom.
“Die enigste argumente wat toe bestaan het, was Ford of Chev, Nat of Sap,” het Pieter skertsend genoem.
Absa en die voorsitter se pa, Joubert Cillié, is ook deel van die geskiedenis van hierdie wynkelder.
Joubert Cillié was 60 jaar gelede in Wellington die eerste kliënt van Volkskas en Bovlei die vyfde kliënt.
* Bovlei wine cellar celebrated its centenary and award-winning wines with a gala event.
More
News
|