Hande oop vir Kersfonds
2007-11-01
WIL jy graag plaaslike welsynsorganisasies help?
Filmatic Packaging het die uitdaging van HG Molenaar aanvaar, en ’n skenking van R2500 gemaak om Molenaars se skenking aan die Kersfonds te ewenaar.
“Ons versoek almal in die plaaslike gemeenskap om ’n bydrae te maak om te wys dat hulle omgee wat met ons mense gebeur. Selfs net R100 kan in iemand se lewe ’n verskil maak as dit reg aangewend word,” sê Filmatic se hoof.
Leerlinge van die Hoërskool La Rochelle het ook ’n uitdaging gerig aan ander skole om hul bydrae van R500 te klop wat hulle ingesamel het met ’n Civvie-dag.
Dit bring die skenkings tot dusver te staan op R6700.
Alle skenkings van lesers gaan aan plaaslike welsynsorganisasies deur die Wes-Kaapse Gemeenskapskas, wat sowat 30 verdienstelike plaaslike organisasies steun.
Die Gemeenskapskas maak reeds aansienlike bydraes tot welsynsorganisasies in die Paarl Post se lesersgebied (sowat R500 000 per jaar) en lesers word uitgenooi om dié poging ’n hupstoot te gee met bydraes deur die Paarl Post Kersfonds.
Alle bydraes aan die Paarl Post Kersfonds word in ’n afsonderlike bankrekening inbetaal en deur die Gemeenskapskas teruggeploeg in die Paarlvallei - geen bydraes van ons lesers sal aan begunstigdes buite die Paarl Post se lesersgebied uitbetaal word nie.
Stuur skenkings aan Paarl Post Kersfonds, Posbus 248, Paarl, 7620. Alle skenkings word in die Paarl Post erken.
Skenkings kan ook direk inbetaal word in die Gemeenskapskas/Paarl Post Kersfondsrekening 62152029007 by FNB (taknommer 261150) en faks die strokie na 021-872-9280 (aandag Kersfonds).
Slegs formele organisasies wat geouditeerde state indien van hul uitgawes, word deur die Gemeenskapskas gehelp met fondse.
Die Gemeenskapskas benut alle leserskenkings om welsyn te steun - administrasiekostes word verhaal uit ander bronne, soos erflatings.
More
News
|