Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Middedorp reg vir feesseisoen

Middedorp reg vir feesseisoen
 
2007-11-08


NA onderhandelinge van bykans twee jaar tussen die Paarl middedorp-sektorpolisie en Drakenstein Munisipaliteit, is R250 000 uiteindelik toegeken aan die polisie om nog geslotebaankameras in die middedorp op te rig.

Winkeleienaars in die middedorp steier dikwels in die hande van misdadigers wat hulself in hul winkels help en hul kliënte ook beroof.

Motordiewe is ook daagliks doenig hier.

Weens dié misdaadsituasie in die middedorp wil talle mense nie meer hier hul inkopies doen nie.

Twee jaar gelede het dié sektor, onder leiding van insp Rickus Steenkamp, borgskappe en bydraes van verskeie plaaslike besighede ontvang om drie geslotebaankameras op te rig.

’n Beheerkamer is ingerig in ’n kantoor in Lady Greystraat en hiervandaan word die kameras gemonitor.

Alhoewel dit getoon het dat die kameras suksesvol is om misdaad te bestry, is daar ook vasgestel dat daar ’n behoefte vir nog kameras is.

Hierdie nuutste skenking maak die installering van drie nuwe kameras nou moontlik.

’n Plaaslike sakevrou, Barry Coetzer, wat al jare lank betrokke is by die middedorp misdaadforum, het gesê dat die Paarl nege jaar gelede reeds kameras in die dorp gehad het, maar weens min samewerking van plaaslike besighede, is dié projek beëindig.

“Die Paarl was die eerste dorp in die Wes-Kaap, voor Kaapstad en Stellenbosch, wat geslotebaankameras vir sekuriteit in die middedorp gebruik het.

“Ons het staatgemaak op die finansiële bydraes van besighede, maar toe die fondse opgedroog het, moes ons noodgedwonge die kameras verwyder. Ons kon nie meer bekostig om ’n beheerkamer aan die gang te hou nie.

“Sedertdien het Paarl talle treë agteruit geneem, terwyl Stellenbosch ’n hoogs suksesvolle veiligheidsisteem in hul middedorp het.

“Daar is reeds elf kameras orals in dié dorp geïnstalleer en hierdie kameras is hoofsaaklik geborg deur die Stellenbosch Munisipaliteit.

“Binnekort gaan hulle met hul tweede fase begin en nog sewe kameras sal ’n oog op dié dorp hou.”

Daar word beoog om die drie nuwe kameras van die Paarl teen Desember in werking te hê. Hierdie kameras sal oor die nuutse tegnologie beskik en sal volkome draadloos wees.

Tans is daar ’n kamera by die kruising van Lady Grey- en Hoofstraat, in die omgewing van Standard Bank, en een by Van der Lingenplein.

Die nuwe kameras sal geplaas word naby Edgars, op die hoek van Breda- en Nuwestraat, en by Demtex (hoek van Lady Grey en Bergrivier Boulevard).

Die beheerkamer gaan terselfdertyd oorgeplaas word na die Paarl polisiestasie waar die kameras 24 uur gemonitor sal word deur polisiebeamptes.

’n Woordvoerder van die polisie het gesê dat sy vol vertroue is dat die middedorp oor die feesseisoen ’n veiliger plek vir almal gaan wees.

“Ons sal graag in die toekoms oral in die Paarl sulke kameras wil oprig, veral naby winkels en restaurante, maar sulke projekte kan slegs werk as plaaslike besighede hierby betrokke raak.”

Barry Coetzer kan geskakel word by 083-630-9640 vir meer inligting oor dié projekte.

* Three new closed-circuit cameras will be erected in the Paarl CBD to fight crime.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za