Groot potplant spoorloos
2007-11-08
’n BEJAARDE vrou van Wellington is baie hartseer nadat ’n geliefde plant van haar spoorloos verdwyn het.
Dolly Bam van Jan van Riebeeckstraat lewe reeds meer as dertig jaar lank met dié pienk anthurium saam en oral waarheen sy getrek het, is die groot potplant saamgeneem.
Die afgelope tien jaar al staan die anthurium saam met al Dolly se ander plante en pronk op die voorstoep van Huis Jan van Riebeeck.
Vir Dolly is haar plante haar familie. Haar man is reeds ’n geruime tyd gelede oorlede en hulle het nooit kinders gehad nie.
Dus hou haar groen vingers vir haar besig met die kweek en versorging van plante.
Die noodlot het egter drie weke gelede getref.
“Eendag het ’n vrou uit die bloute kom vra of die blomme van die anthurium nie te koop is nie. Dit is die eerste keer dat iemand so iets kom vra. Die antwoord was egter nee.
“Kort hierna het ek een oggend wakker geword en oudergewoonte die losieshuis se voordeur gaan oopmaak om na my plante te gaan kyk.
“Ek het dadelik gesien dat die anthurium nie meer daar staan nie.
“Dit is vir my ’n groot slag, want dié plant was my oogappel.
“Die skuldige het groot moeite gedoen om dit te verwyder, want dit het so vier voet hoog gestaan en was baie swaar.
Een persoon alleen sou nie die potplant kon verskuif het nie.”
Die hulp van die polisie is ingeroep, maar daar was geen spoor om te volg nie.
“Ek wil egter net my plant terug hê en ek vra dat die persoon wat dit gevat het, dit net stilletjies sal kom terugsit waar dit hoort.
“Ek is nie kwaad nie en dra geen wrok nie, maar ek mis die mooi plant verskriklik baie.”
Dolly kan geskakel word by 073-256-1893.
* A large anthurium pot plant has disappeared without a trace from the verandah of a house in Wellington.
More
News
|