EK kan nie die siekte wegneem nie, maar die vrees vir die dood kan ons verlig. Hierdie is ’n stryd wat ons nie kan bekostig on te verloor nie, kom en kos wat wil!”
So praat dr Nelis Grobbelaar, hoof mediese beampte by die “Emporium of Care” by TC Newman Hospitaal in Paarl-Oos.
”Omgee is ons besigheid, want MIV het ons byna uitoorlê en die pille en tradisionele mediese wetenskap is nie genoeg nie,” sê hy.
”Die Emporium is gebore in ons soeke na oplossings en pasiënte te help om die virusse onder beheer te hou en veral om aan die siekes te wys dat ons omgee. Ook die groeiende aantal mense wat daagliks besmet word met die HIV-virus.”
Rachel Molaolwa, ’n pasiënt, hou by die Emporium ’n wakende oog.
Grobbelaar sê: ”In die streek wat ons bedien, het ons tans 2500 mense op anti-retrovirale (ARV) behandeling en 1300 van hulle is in die Paarl. Altesame 220 van hulle is kinders.
“Ons het nog ’n lang pad om te loop, met navorsing, opvoeding en ondersteuningsprogramme om die groeiende tendens van HIV-besmetting hok te slaan.
“Maar ek hou goeie moed, veral as ek dink aan die lang pad wat ons reeds gekom het en die vele sukses wat ons alreeds bereik het,” sê ’n begeesterde dr Grobbelaar.
Die “Emporium” of handelshuis, is geleë in die ou gebou van die verbrandingsoond by TC Newman Hospitaal wat die afgelope tien jaar al in onbruik was en leeggestaan het. Stap jy nou daarin, begroet helder geverfde geel (vir respek) staaldeure jou.
Binne is die mure van kamers groen (verantwoordelikheid), blou (betroubaarheid), rooi (omgee) en pers (goeie burgerskap) geverf.
“Die muise en uile het hier kom nes maak en al die weggooigoed is daar gestoor.
“Danksy verskeie donateurs is ons besig om die gebou te omskep en die vindingrykheid ken nie einde nie. Daar is reeds sewe wendyhuise binne die gebou opgeslaan wat dien as kantore vir verskillende projekte en in die middel is ’n koffiewinkel vir die pasiënte,” sê dr Grobbelaar.
In ’n neutedop sluit die Emporium aan by die mediese diens deur pasiënte te help om toegang te kry tot ander dienste en behoeftes wat hulle gaan help in hul stryd teen HIV.
“Werkverskaffing, aanleer en opskerping van lewensvaardighede, terug werk toe gaan, aanpassingsprobleme en ook geestelike versorging, is alles projekte wat hier gemobiliseer word.
”Die HIV-epidemie is vantevore afgeskeep,” sê dr Grobbelaar. ”Dis eers in 2003 dat die mediese professie in Paarl met ’n gefokuste mediese diens vir MIV in die staat begin het.
“In 2004 is ons een van die eerste plattelandse eenhede buite ’n akademiese hospitaal wat begin het met die gee van ARV.
“Sedertdien het die diens geweldig uitgebrei en vandag het ons ses ander klinieke in ons streek geopen wat ’n gebied bedien tot sover as Vredendal, Citrusdal, Boland, Swartland en met die verste hoek tot by Bitterfontein,” sê hy.
Volgens dr Grobbelaar is dit wonderbaarlik om die “Lazarus-effek” by HIV-pasiënte te sien wat op die ARV-behandeling reageer.
”Vóór hierdie behandeling was die verwagte lewensduur omtrent twee jaar, maar mét behandeling rek ons dit van 10 tot 15 jaar!”
Hy kan die opgewondenheid nouliks verberg: ”Vroeg in die negentigerjare het die middels nie eintlik gewerk nie, maar nou met trippelterapie het ons agtergekom dat die virus nie weerstandigheid ontwikkel nie. Nuwe middels word steeds ontwikkel.”