Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Indringer-eende moet pad vat

Indringer-eende moet pad vat
 
2007-11-22

Lise Beyers

ALLES wat glinster is nie goud nie en so ook is ons geveerde vrien­de nie noodwendig ons vriende nie.

Hierdie standpunt word tans ernstig toegepas by Boschenmeer Gholflandgoed waar ’n geweldige probleem ontstaan het met uitheemse mallard-eende en kolganse.

Die mannetjies mallard-eende, met hul kenmerkende metaal-

groen koppe, is berugte pierewaaiers en sal basies met enige wyfie-eend paar.

Hierdie eend is die voorouer van die mak eend en is oorspronklik afkomstig vanuit die noordelike halfrond. Hulle kruisteel maklik met die inheemse geelbek-eend en sodoende bestaan ’n vrugbare nageslag baster-eende wat nie in die natuur hoort nie.

Hierdie verbastering bedreig ook die voort­bestaan van talle inheemse eend-

spesies.

Langoedbestuurder Leon Mostert het ge­sê dat hulle in samewerking met natuurbewaring ’n plan beraam het om ontslae te raak van mallards by Boschenmeer, om sodoende ’n geleentheid te skep vir inheemse eende om voort te bestaan.

“Volgens Natuurbewaring is dit landwyd ’n beleid dat dié eende in Suid-Afrika uitgewis moet word.

“Mallard-eende kruisteel met talle ander eende, mak asook wildes.

“Ons het nou hokke ontvang vanaf Natuurbewaring waarmee die mallards gevang sal word en aan Natuurbewaring oorhandig word.”

Die ander probleem waarmee Boschenmeer sit, wat ook ’n nagmerrie wêreldwyd is vir enige gholfbaan, is die teen­woordigheid van kolganse.

’n Paar honderd kolganse het hul hier tuisgemaak en tans teel hulle vinniger as konyne aan.

Kolganse is grasvreters en vernietig so stelselmatig die skoon­velde van die baan. Behalwe dié feit, kan ’n kolgans tot ’n kilogram uitskeiding daagliks produseer wat ook op die bane gelaat word.

Dit is nie ongekend dat boere in dié omgewing kolganse skiet wat hul landerye verwoes nie, maar Mostert het gesê dat hulle nie beoog om sulke drastiese stappe te doen nie.

“Tans is ons besig om te kyk na ’n apparaat wat wêreldwyd reeds met groot sukses op gholfbane gebruik word om ontslae te raak van hul gansprobleem.

“Hierdie sonkrag-apparaat word in die water versteek. Elke nou en dan flits daar ’n lig daaruit wat vir die eende irriteer. Dus beweeg hulle uiteindelik aan.

“By Erinvale Gholflandgoed is dié toestel reeds met groot sukses gebruik en hul kolgansgetalle het met 50% verminder.

“Dit is ook ons doelwit om die kolgans bevolking nie uit te wis nie, maar te verminder.”




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za