DIE prinsipaal by Windmeul Primêre Skool George Kroneberg, het die kwartaallikse “Local Hero-prys van R10 000 gewen.
Hy het verlede Donderdag die prys van die Nedbank Wellington takbestuurder, René Rossouw, by die skool in ontvangs geneem.
Kroneberg is hoog in sy noppies oor dié prys, want dis soos een van die diamante in sy kroon van harde werk die afgelope meer as anderhalfjaar. Oor naweke het hy tesame met ’n paar helpers twee ekstra klaskamers agter die skool opgerig.
“Dit is om te voorsien in pre-primêre skoolopvoeding vir ons kinders wat hier op die plase bly, wat selde enige opvoedkundige stimulasie by die huis kry,” het Kroneberg gesê.
Die pre-primêre klas is in 1996 op die been gebring en Januarie 1997 het die klas geopen met 40 kinders.
Nou voorsien die pre-primêre skool voorskoolse onderrig aan plaaswerkerkinders van plase in die Agter-Paarl en Paardeberg- omgewing.
Vandag, na tien jaar, groei die pre-primêre groep van krag tot krag en is daar omtrent 60 kinders en twee leerkragte met Christine Kroneberg aan die hoof van die afdeling.
Op 22 September is die byna voltooide houtgebou ingewy. Tot dusver is R75 000 aan die oprigting daarvan tot aanvaarbare klaskamerstandaard bestee en het hulle nog sowat R20 000 benodig om dit te voltooi.
Een klaskamer se plafon moet heeltemall voltooi word en die elektriese bedrading moet ook afgehandel word.
Brandblus-apparaat staan ook hoog op die prioriteitslys, tesame met pre-primêre skryfbehoeftes wat aangekoop moet word.
“Daarom is hierdie prysgeld soos manna uit die hemel wat ons konstruktief gaan gebruik,” sê Kroneberg.
“Ek sê dankie aan almal wat gehelp het met die harde werk en vir hierdie prys om dit suksesvol te voltooi,” het Kroneberg afgesluit.