“EK hoef nie meer te wag om in die hemel te kom nie; ek het al klaar soveel engele ontmoet.”
So gesels ds Nelis du Toit, bestuurder van die Christen Vigsburo vir Suidelike Afrika (bekend as CABSA), wat by Hugenote Kollege op Wellington gebaseer is, oor die voorreg om gereeld saam met besonderse mense van Suider-Afrika te werk wat betrokke is by versorgingsprojekte.
“Wat tog jammer is, is dat baie van hulle buite gevestigde gemeentes werk, omdat hulle nie noodwendig daar die seën ervaar van hul mede-gemeentelede of hul leraars op hul werk met MIV-positiewe mense en hul geliefdes nie,” vertel hy op die vooraand van Wêreld Vigsdag op 1 Desember.
Vanaf hul basis, ’n klein geboutjie op die Cummings-terrein digby Hugenote Kollege se biblioteek, staan CABSA ’n wye spektrum van Christendenominasies, -gemeenskappe en nie-regeringsorganisasies by om gemotiveerd vanuit ’n Christen-perspektief betrokke te wees by mense wat met MIV en Vigs leef of daardeur geraak word.
Dit wissel van die Verenigende Gereformeerde Kerk, die NG Kerk en die Anglikaanse Kerk tot nie-regeringsorganisasies soos PRISMA, World Vision en ALICT.
“Ons wil ’n versorgende Christen-gemeenskap skep wat hoop en versoening bied aan mense wat met MIV en Vigs leef en direk daardeur geraak word.”
“Dit is ons visie en missie om kerke en geloofsgemeenskappe in hul respons op MIV en Vigs te begelei deur sensitisering, mobilisering, die bevordering van netwerke en die voorsiening van inligting,” brei Nelis uit.
CABSA, wat in 2001 gestig is, gebruik ’n sterk korps van opleidingspersoneel om te help met die aanbied van hul “Kerke, Kanale van Hoop” opleidingskursus, waardeur mense bemagtig word om in hul eie gemeenskappe danksy die regte inligting en tegnieke ’n impak te kan hê.
Hulle bied ook kursusse aan waardeur mense gesensitiseer word oor hoe om teenoor mense met MIV in die werkplek op te tree, of deur verskillende inisiatiewe na hulle uit te reik.
Besoeke aan gemeentes en praatjies by belangstellende groepe is ook op die agenda.
Benewens hul betrokkenheid in Suid- Afrika, het CABSA-personeel ook al uitgereik na Malawi en Botswana en word hul programme onder meer bygewoon deur mense uit Zimbabwe en Lesotho.
“Dit is vir my eintlik ongelooflik om te dink dat vir so ’n relatief klein dorp soos Wellington, daar soveel organisasies is wat nasionaal en selfs wyer werk in evangelisasiewerk, en ook ten opsigte van betrokkenheid by die Vigspandemie in Suid-Afrika.
“Dink maar net aan Bybel-Media, die Christelike Lektuurfonds, die Murray Sendingsentrum en die Toerustingsburo vir Interkulturele Werkers,” verduidelik Nelis.
“Van ons lojaalste donateurs kom ook uit die Vallei,” vertel hy, “onder meer die Narollah Sendingtrust en die HR Rupert Getuienistrust, en deesdae ook die Athlone Trust.”
Soos baie nie-winsgewende organisasies, is hulle baie afhanklik van befondsers en donateurs om hul drome en ideale te kan bereik. Dit gaan ook hand aan hand met die hoeveelheid personeel wat in diens geneem kan word, en dus letterlik hoe groot hul invloed kan wees.
Op die oomblik het hulle drie voltydse personeellede, wat sekretaresse Meloney Goliath en Lyn van Rooyen van CARIS, CABSA se inligtingsvleuel, insluit. Oud-Wellingtonner Aneleh Fourie-Le Roux werk deeltyds en is verantwoordelik vir opleiding.
Daarby werk hulle baie met persone wat gekontrakteer word om kursusse aan te bied, asook vrywilligers wat onder meer hand bysit met bemarkingswerk en finansies.
“Ons ideaal is egter ook om individue betrokke te kry, want deur mense se klein bydraes kan hulle help bou aan die groter droom.”
”Ons droom ook dat die kerk in geheel betyds betrokke sal raak om ’n betekenisvolle bydrae tot hulp met die Vigspandemie te kan maak, voordat dit te laat is.
“Ons almal bid dat daar ’n mediese deurbraak sal kom. Dit kan nog lank wees of sommer môre al, en dan is die kerk en sy mense se kans verby om iets te kon doen aan die wel en wee van baie mense.”
Dié boorling van Cradock se eie betrokkenheid in die veld is iets wat hy sê “geleidelik” ontwikkel het.
Nelis, wat onder meer leraar in Eendekuil was, was vir 18 jaar herder van die VGK Gemeente Agter-Paarl. Daar het hy mettertyd “allerlei projekkies ten opsigte van Vigs begin.Vigs begin.
So het hy kontak gemaak met Logy Murray, wat saam met prof Attie van Wijk van Hugenote Kollege een van die dryfvere agter die stigting van CABSA was.
Logy, wat deesdae soortgelyke werk vir World Vision doen, het Nelis genader om op hul eerste raad te dien.
“En jy weet mos dan hoe dit werk, jy kry die werk omdat niemand anders wil ‘volunteer’ nie,” sê hy beskeie.
Oor ’n periode van twee jaar het sy betrokkenheid by CABSA gegroei tot op ’n punt waar hy meer as vier jaar gelede as bestuurder by Logy oorgeneem het toe sy by World Vision aangesluit het.
Dit is ’n uitdaging wat hy steeds daagliks aangryp, danksy die ondersteuning van sy onderwyseres-vrou Liezel en seuns.
“Hoe meer ek in hierdie veld beweeg, hoe meer besef ek dat dit eintlik so kenmerkend geraak het van Christene om ander mense te oordeel. Ons het iets van die medemenslikheid verloor wat die Bybel sê ons moet hê,” glo hy.
“Ons moet weer leer om mense te aanvaar vir wie hulle is, ongeag wat hulle makeer. Ons moet weer begin om vir mense tyd te maak en na hulle stories te luister.”
Mense se houdings teenoor mekaar, glo hy, kom prakties te voorskyn op die manier waarop oor ander mense gepraat word.
“En jou kinders hoor hoe jy praat oor ander mense, oor dinge soos dwelms, seks en mense met Vigs. Dan weet hulle hoe jy gaan reageer as hulle ooit self eendag met so ‘n probleem of krisis na jou toe kom,” waarsku hy.
* Besoek www.cabsa.co.za vir waardevolle inligting oor hoe om by die projek betrokke te raak.