Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Plaaslike ma's reik hand uit

Plaaslike ma's reik hand uit
 
2007-11-29


DIE wense van die 106 leerders van Blouvlei Primêr is verlede week vervul toe presies 106 presente tydens ’n spesiale Kinderdag by hul skool uitgedeel is.

Leerders van dié skool kon vooraf op ’n wenslys neerskryf wat hulle graag sou wou hê, en so is ’n baie spesifieke lys behoeftes opgestel.

’n Slaappop, nagklere, tekkies, ’n meetkundestel, ’n speelpop en ’n speelgoedkarretjie was onder meer op die lys waarop elkeen kon neerskryf presies wat hulle graag sou wou hê.

Die presente is uitgedeel tesame met hope pret en plesier op inisiatief van Ma’s-vi-Wel­lington, ’n vrywillige gemeenskapsprojek wat oor die afgelope paar maande onder ’n groep vroue van Wellington ontstaan het.

“Dit was elkeen se wens, en ons kon dit vervul,” vertel Stephanie Henderson, inisieerder van Ma’s-vi-Wellington, oor die Kinderdag, wat sy ’n lekker “bederfdag” noem. Hulle is hierin gehelp deur lede van die plaaslike Jong Dames Dinamiek.

“Ek het sommer lekker gehuil terwyl ek die lys saamgestel het,” vertel sy.

Ma’s-vi-Wellington spruit uit die onlangse 40 Days-projek wat tussen verskillende gemeentes in Wellington geloods is, en waarin mense uitgedaag is om hul geestelike doel te vind.

Hulle het daarna met onderwysers en skole gaan gesels, om bewus te kan raak van spesifieke behoeftes.

“Ons kan nie net ma’s van ons eie kinders wees nie, maar moet ook mammas vir ons eie dorp en sy mense wees,” glo Stephanie. “Ons is op Wellington met ’n doel.”

’n Deel van die inisiatief is om te help waar daar behoefte is, al is dit klein of groot.

“Ons word regtig hierin ondersteun deur die plaaslike welsynsorganisasies,” vertel sy. “Ons wil tog nie iemand vervang of die wiel herontwerp nie.”

Soos wat hulle van spesifieke behoeftes hoor, word dit deur middel van onder meer ’n epos-flits aan belangstellendes versprei.

“As ons byvoorbeeld hoor van ’n skool waar daar kinders is wat tekkies kort, kan ons die boodskap so versprei,” vertel Stephanie. “En kan ’n persoon op wie se hart dit gedruk is om te help, dit doen.”

Voor die Kinderdag, byvoorbeeld, het daar nog heelwat presente gekort. Met ’n vinnige SMS-veldtog kon die boodskap oor die spesifieke behoeftes versprei word, en kon daar danksy die geld wat geskenk is, presente gekoop word.

“So kan mens vinnig probeer beweeg om ’n dringende behoefte te kan aanspreek.”

Stephanie het ook ’n nuusbrief wat sy versprei, en gaan praat oor die inisiatief by belangstellende organisasies.

Hulle het reeds begin met Projek Vol Magies, Vol Vreugde, ’n gereelde voedingskema Woensdagmiddae in Vanwyksvlei, wat tot die einde van die jaar in die Colibrisaal aangebied sal word.

Saam met ’n eetding word die kinders ook betrek by ’n kreatiewe projek, en word ’n les uit die Woord ook aan hulle gebring. Ella Bailey vat hierin voor.

Die ouer kinders help ook om rommel in die gebied op te tel.

Ma’s-vi’-Wellington is ook betrokke om vir Morné Vermeulen, wat ’n dringende behoefte het vir ’n elektriese rolstoel, te help.

“Ons sal graag meer sel- of Bybelstudiegroepe wil uitdaag om by ons betrokke te raak om die voedsel vir ’n sopkombuis te skenk,” vra Stephanie, wat graag die voedingskema na vier ander areas wil uitbrei.

“As ’n selgroep een dag ’n week kry om kos te maak vir sowat 30 kinders, kan jy byvoorbeeld weekliks beurte maak as huishoudings om kos voor te berei.”

Hul Projek Pak-’n-sak-vul-’n-magie voorsien nie-bederfbare voedselprodukte aan hulpbehoewendes.

“Al kan jy nie self kom help met die uitdeel van die kos nie, kan jy altyd donasies of vars produkte skenk,” daag sy uit.

“En ons wil sommer nou al reeds begin komberse insamel vir die winter wat voorlê, al is dit nog ver.”

“Daarby het ons veral ook saambid-vrien­de nodig om ons werk te kan rig.”

Kontak Stephanie by 021-873-2144 of 083-459-5961 indien u van enige behoefte bewus is of as u as ’n omgeegroep of individu betrokke wil raak.

Stuur ook e-pos na masviwellington@telkomsa.net of shenderson1@telkom­ -sa.net




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za