WELLINGTON is nie net ’n mooi dorp vanweë sy ligging tussen die Bolandse wingerde en berge nie. Danksy die harde werk van komiteelede van onder meer die plaaslike Verfraaiingskomitee en honderde inwoners wat liefderyk hul tuine en huise versorg, is die dorp ’n sieraad.
Een so ’n inwoner is Carinda Smit van Bainstraat, wat te midde van die bouwerk aan die “Piano Factory” ontwikkeling oorkant haar huis ’n koel lafenis geskep het.
Carinda se tuin is vanjaar die eerste keer ingesluit op Wellington Tuinbouvereniging se jaarlikse oop tuine-naweek.
Dit het doelgerigte, harde werk en fyn beplanning oor die afgelope vier jaar gekos om die agtertuin ’n elegante verjongingskuur te gee. Die voortuin met sy spuitende fonteintjie is egter eers vanjaar aangeplant.
Toe Carinda en haar man, André, die huis gekoop het, was die boomryke tuin al baie oud, met turksvye en hardehout vrugtebome wat reeds hul beste jare geniet het.
Sy het by haar Gautengse landskapsargitek-broer, Beukes Goossen, gaan aanklop, en hy het vir haar ’n plan ontwikkel om die agtertuin in ’n elegante en formele Frans-Provinsiale styl te omskep van formele heinings van Durante cheenas gold, tesame met netjiese paadjies en beddings met laventel, azaleas, agapanthus, Iceberg rose en krismisrose.
“So ’n plan is goud werd,” glo sy, “want beplanning is die heel belangrikste wanneer mens so ’n groot tuin oordoen.
“Dit kan mens ook baie geld spaar om van ’n kant af stuk vir stuk aan jou tuin te werk, eerder as wat mens rond en bont plant en verander.”
“’n Mens moet goeie voorbereiding tref, en in fases werk,” glo Carinda.
Sy het self by die 400 steggies gemaak vir die heinings, wat sy dig op mekaar geplant het.
Danksy reuse pekanneutbome, eikebome en ’n groot suurlemoenboom is die tuin baie koel.
Sy het ook interessante items soos ’n reuse visdammetjie gebruik om die oog te vang, en ’n formele styl in die tuin te verseker.
Die pilare wat eens die ou druiweprieel gedra het, is omgebou om ’n treffende atrium te vorm.
“My tuin is vir my ’n lafenis en ’n plek om in te ontlaai,” vertel Carinda.
’n Formele kruietuin is volgende op die lys van dié vrou met die groen vingers.
Dit is egter nie net die Smitte se tuin wat oor die afgelope vier jaar baat gevind het by hul aandag nie.
Die Wellingtonse Verfraaiingskomitee het reeds in 2005 vir hulle erkenning gegee vir die deurlopende restourasiewerk aan hul dubbelverdiepinghuis, wat dateer uit 1864.