Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Sy bou met kleur

Sy bou met kleur
 
2007-11-29


AS ’n mens na kunstenaar Desireé Malan en haar werk kyk, kom die woorde van Sheila Cussons se ge­dig “Henri Rousseau” onwillekeurig by jou op.

“Ek het meteens onthou dat ek gelukkig is, langsaam, statig kom ’n pou uit blonde tonnels van die tuin en sleep ’n blom-bont vereveld waaroor blink luiperd-oë die blou kolom...”

Want, verduidelik Desireé, as sy vir haarself ’n kenmerkende motief moet kies wat sy weer en weer in haar mosaïek-, skilder- of pottebakkerswerk gebruik, sou dit ’n pou wees. En veral die blou en pers kleure van hierdie pronkvoël.

En, as ’n mens so met haar gesels, besef jy dat terwyl sy haar nou voltyds uitleef as kunstenaar, sy besef dat dit ’n gelukkige voorreg is.

“As iemand my vra wat ek doen, sê ek ek is ’n kunstenaar,” vertel sy tevrede.

Sy is sedert 2006 voltyds kunstenaar, maar kommersiële sukses is nie noodwendig haar mikpunt nie.

Desireé is ’n Oos-Kapenaar wie se voete haar weldra na Wellington gebring het saam met haar man Danie, ’n boorling van die dorp. Van haar mooiste kinderdae-herinneringe is van die pragtige modderkoeke wat sy kamstig gebak het.

“Vandag bak ek nog steeds ‘modderkoeke’, maar nou in ’n pottebakkersoond.”

Vir haar was mosaïek ’n natuurlike uitvloeisel uit haar pottebakkerswerk, toe sy nut gesoek het vir al die gekraakte potte wat al te dikwels hul verskyning gemaak het.

“My eerste pogings was om ’n ‘vibracrete’ muur te versier, en sedertdien is mosaïek een van my passies.”

Sy stal tans uit saam met drie van haar vriendinne, vir wie sy klasse in mosaïekkuns gegee het, in die Breytenbach-sentrum.

Die funksionele items soos kersblakers, kruise en blombakke van Estelle Atterbury, Helmine van der Mescht en Lelani Ströhwald is daar te sien, sy aan sy met Desireé se gemengde media ikoniese muurmosaïek en spieëls.

“Dit is vir my opwindend om hierdie uitstalling saam met hulle te hou, aangesien ons die afgelope paar maan­de saam die mosaïekpad geloop en by mekaar gekla het as ons hande vol snye is.”

Desireé se hande, wat sy probeer beskerm met ’n paar goudgeel skottelgoedwas-handskoene, wys behoorlik dat mosaïekwerk harde, fisiese werk is.

Sy gebruik pottebakkersklei saam met mooi gekoopte teëls wat sy dan self verder verf, Cernit klei en enigiets anders wat haar oog vang.

’n Gunsteling is om onder meer kant in die klei te bak vir ’n baie interessante tekstuur. Vir haar ikone het sy onder meer foto’s, treffende slagspreuke en miniatuur-skilderytjies ingespan om ’n visuele fokus op die verskillende aspekte van ’n vrou uit te beeld.

“Dit is juis die onvoorspelbaarheid van mosaïekkuns wat dit vir my so ’n opwindende medium maak.”

Sy het met grafiese ontwerp begin by die destydse Kaapse Technikon, en oor die jare heen as onder meer boetiekeienaar in Johannesburg en prinsipaal van ’n plaaslike eiendomsagent kort-kort een of ander kreatiewe kortkursus gevolg om uiting aan haar kunstenaarsdrange te gee.

“Van tekstielontwerp tot pottebakkery tot ‘crafts’,” vertel sy in die Breytenbach-sentrum, waar sy deesdae ’n studio huur om voltyds mosaïekwerk te doen.

Haar pottebakkerswerk, “wat maar ’n vuil werk is met klei en water”, doen sy van die huis af, waar sy ook ’n oond het.

Sy sê sy geniet egter die stimulasie en die kreatiewe gees van die Breytenbach-sentrum, aangesien ’n mens maar kan eensaam raak as jy van die huis af werk.

Sy bied ook hiervandaan weeklikse mosaïekklasse aan. ’n Verdere stimulasie is haar virtuele mosaïekvriende met sy via die Internet korrespondeer en idees uitruil.

Sy vertel dat kontemporêre mosaïekkuns veral in die VSA groot nuus is, en dat daar tot ’n amptelike mosaïekvereniging daar is.

“Min mense wat in Suid-Afrika hierdie kunsvorm beoefen, maak hulle eie teëls soos wat ek doen, en daarom is dit lekker om met ander kunstenaars te kan korrespondeer.”

Op ’n onlangse besoek aan New York was sy verstom om te sien hoe die kunsvorm lewe kry in onder meer moltreinstasies.

Dit is juis hierdie tipe funksionaliteit wat in kontemporêre mosaïekkuns opgesluit lê, wat sy graag in haar uitstalling vir mense wil oordra. Dit is nog tot 14 Desember in die Breytenbach Sentrum te sien.




More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za