Dit bly ’n voorreg om te kan beleef hoe ’n lig by kinders opgaan wanneer hulle iets baasraak. Dit bied baie bevrediging.”
So gesels Jannie Fourie, wat sy hele onderwysloopbaan van 38 jaar by Laerskool Hugenote werksaam was en nou die tuig op 60 jaar gaan neerlę.
Twee geslagte leerders het al onderrig van hierdie rustige pedagoog ontvang, waarvan talle ook nou saam met hom op die personeel dien.
“Ek moet aftree voordat daar ’n derde geslag is,” spot hy goedig.
Fourie, wat op Molteno in die Oos-Kaap grootgeword het, sę sy kop het na skool in ’n tegniese rigting gestaan, maar sy geskiedenisonderwyser by Hoërskool Molteno het hom eerder aangemoedig om die onderwys te betree.
“Daaroor was ek nog nooit spyt nie, ek sal weer die onderwys kies,” vertel hy.
Mits daar nie meer so baie vergaderings en kursusse is om by te woon nie!
Hy het aan die destydse Wellington Onderwyskollege studeer, en ook ’n jaar houtwerkonderrig-opleiding by die destydse Onderwyskollege Paarl deurloop.
Hy het sy onderwysvrou, Cloetie, raakgesien tydens ’n proeftydperk in De Doorns. Sy is ’n boorling van Wellington, “wat seker een van die redes is hoekom ek hier gebly het.”
“Daar het net ’n punt gekom wat ek geweet het ek hoort hier,” gesels hy in sy kantoor, waar die bokse nou reeds opgestapel staan, oor sy lang loopbaan, “maar aan die begin het die Bolandse berge my nogal vasgedruk.”
Benewens die een jaar se opleiding in die Paarl het hy die res van sy loopbaan in Wellington geslyp. Sy drie kinders, Thinus, Aneleh en Marisan, het ook onder sy hande deurgeloop.
Fourie, wat sedert 1998 adjunkhoof van die skool is, het in Januarie 1970 by die Hugenote personeel aangesluit toe dit nog in die Markstraat-geboue gehuisves was.
In 1973 het Fourie saam met die res van die personeel oorgeskuif na die nuwe geboue, wat, benewens die aanbouing van ’n saal, nie veel oor die jare verander het nie.
“Ek het letterlik die skool uit die grond sien kom,” vertel hy.
Daardie jare was daar nog wingerde en plaasgrond rondom die skool, asook die nabygeleë Hugenote Hoërskool.
Toegangspaaie na die skool was daar toe nog nie, met Generaal Hertzoglaan wat eers later gebou is.
“Ons moes die skoolbus aan die bopunt van Fonteinstraat parkeer, sodat die kinders dan oor die oop grond verder kon stap skool toe,” onthou hy.
Hy was gedurende sy loopbaan hoofsaaklik verantwoordelik vir die aanbied van Afrikaans en Houtwerk (deesdae se Tegnologie), en ook dan en wan Wetenskap.
Hy het ook talle skoolhoofde sien kom en gaan.
Hy het sy loopbaan onder adjunkhoof Daan Heyns begin, toe die jarelange hoof Paul Retief met studieverlof was. Retief is in 1991 opgevolg deur Flip Viviers.
Fourie het vir 18 maande as hoof waargeneem in die periode tussen Christo Gerber en die huidige hoof, Henry Schemper.
Hoogtepunte soos Landsdienskampe in Bainskloof, sport- en opvoedkundige toere na die Suid-Kaap, personeelkampe en die samesyn van kollegas sal hy saam met hom dra.
Hy en sy vrou het onlangs na Les Huguenot digby die skool getrek, en dus sal hy nog steeds bewus wees van die skoolroetine danksy die lui van die skoolklok.
Hy beoog om weer sy houtwerktoerusting af te stof en homself toe te lę op die maak van meubels.
“Ek het al die meubels in ons huis oor die jare self gemaak,,” vertel die handvaardige man, wie se bynaam Vis menige mense al oor die jare laat kopkrap het.
“Dit kan seker wees omdat die destydse standerd 4-wetenskapboek met ’n les oor visse begin het,” lag hy. Of dit kan wees omdat daar ’n groot vistenk in die voorportaal van die ou skoolgebou was en waarvoor ek begin sorg het.”
“Gelukkig hoef ek nie heeltemal tot siens te sę nie, want ons gaan in Wellington aftree.”