’n PAARLIET leef al geruime tyd sonder ’n maag.
Kobus Williams van Brookslaan, New Orlean se maag is verwyder in ’n 10-uurlange marathon-operasie nadat hy met maagkanker gediagnoseer was en dit tot in sy slukderm versprei het. Hy het ‘n totale gastrektomie ondergaan, want sy slukderm is tesame met sy maag verwyder!
“Ek kan nou eers die moed bymekaarskraap om na hierdie paar jaar sedert my operasie oor hierdie traumatiese ervaring wat ek deurgemaak het, te praat,” sê Kobus.
“Jou kop moet reg aangeskroef wees, want mens slaan sommer om en gaan dood sodra jy hoor dat jy dié siekte onder lede het en behoorlik daarvan kennis neem.
“Baie mense oor wie ek al gelees het wat kanker onder lede het, gee sommer bes, want hulle dink dat kanker ongeneeslik is en hulle niks aan hulle situasie kan doen nie. Jy moet kophou,” sê hierdie vegterman van Laetitia Williams, skoolhoof by Ronwe Primêr, wat medies ongeskik verklaar is vir werk.
“Kanker is geneeslik, maar dit moet net vroeg genoeg gediagnoseer word,” sê hy.
Laetitia vertel: “Ek het my ’n papie geskrik toe ek die hygstem van my man oor die telefoon hoor. Hy het het my gesoebat: Jy moet my asseblief kom help liefling, want ek voel verskriklik sleg, en toe was dit stil.” Sy het afgejaag na sy werkplek in die middedorp.
“Ek het net verskriklik naar gevoel, skat, en wou net opgooi,” vertel Kobus nou.
Toe volg die doktersondersoeke en toetse en tot op daardie stadium het hy glad nie vermoed dat sy toestand so ernstig was nie.
Toe die dokter eers later die x-strale vir hom wys, het hy besef dat hier groot fout was, en veral sy waarskuwing dat hulle hulself moes regmaak vir slegte nuus.
“Die diagnose het my soos ’n vuishou tussen die oë getref.”
“Jy het kanker, Kobus, en ons sal so gou moontlik moet opereer om te kyk of ons jou lewe kan red.”
Kobus vertel dat hy, snaaks genoeg, ná hierdie nuus en aanvanklike skok, kalmer geword het. Die dokter wou die nuus aan my wagtende familie gaan oordra, maar hy het gevra om dit liewer sélf te doen.
“Ek het eers gebid en vir God gevra om my en my gesin asseblief deur hierdie lewensveranderende beproewing te dra en te help om dit te bowe te kom.
“Die liefde van my vrou en almal ná aan my, my hoop op genesing en my vertroue in God, het nie beskaam nie,” vertel hy.
Nooit in sy wildste drome het hy kon dink dat hy dié ernstige siekte onder lede het nie, want tot op daardie stadium het hy geen pyn ervaar wat hom kon waarsku nie. Net so nou en dan het hy ’n ongemaklike hoes gehad om keel skoon te maak.
Hy is huis toe gestuur vir ’n week om alle finale en noodsaaklike reëlings te tref, want die kanse dat hy terug huis toe sou kom, was maar skraal.
Toe volg die marathon-operasie waar sy maag en byna sy hele slukderm verwyder is sodat die geneeshere seker kon maak dat nie ’n greintjie van die kankergewas agterbly nie. Sy dunderm is met die boonste gedeelte van sy oorgeblewe eina-stukkie slukderm verbind en nou was hy heeltemal maagloos.
Die ernstig siek Kobus het lank in intensiewe sorg gelê - eers op aarvoeding en daarna alles net versapte kosse. Hy het ook nog lank daarna tyd in die hospitaal deurgebring om gesond te word.
Die eens frisgeboude man het plankdun geword, want sy massa het geval van 112kg tot ’n skrale 68 kg!
Na sy tuiskoms het weke van terapie gevolg en moes hy leer om by sy veranderde dieet aan te pas. Versapte kos was sy voorland vir ses maande omdat geen vaste kos wat hy geëet het, binne gebly het nie. Stadig het sy liggaam gewoond geraak aan klein peuselhappies vaste kos en na omtrent ses weke het dit binne gebly.
Tans eet hy normaal sonder die nodigheid om alles te versap maar dis klein porsies en hy raak gou honger. Soggens eet hy ’n gekookte eier en ’n sny roosterbrood, “om ’n prop te vorm, anders val die kos wat ek later eet sommer deur!” skater hy.
Sy massa het gestabiliseer by 90kg.
“Ek geniet selfs ’n drankie en raak nie sommer hoenderkop nie. Voordat die drank sy effek op my kan hê, dan dop dit alweer uit, want dit het nie ’n baie lang pad om te loop van bo tot onder nie,” lag hy.
“Onlangse toetse het gewys dat ek heeltemal skoon is. Ek is ewig dankbaar vir ’n tweede kans en verstaan die wroeging waardeur kankerlyers gaan.”
Sy lewensuitkyk het ook verander vertel hy, want “ek het nou ’n ryker waardering van die lewe - dis maar nietig en jy moet dit na waarde skat,” Hy gee sy vrou ’n drukkie.