OM in vliegtuie se binnegoed te woel, roes van hul vlerke te skraap of ’n verrinneweerde neus op te bou, is in Rudi Rademan se bloed.
Sy oupa was in die bedryf. Sy pa, Stephan, al vir meer as 40 jaar. En deesdae ook sy jonger broer, Anton.
Hy speel as’t ware dokter vir vliegtuie. “Mechanic”. En paneelklopper.
Rudi is die operasionele direkteur van AC², ’n vliegtuigherstelonderneming wat buite Wellington op ’n graan- en wingerdplaas sy deure oopgemaak het en fokus op die opbou, strukturele herstel en gereelde diens van kleiner vliegtuie.
Hierdie vliegtuig-strukturele ingenieur het sy ambag in die Lugmag geleer, en het weldra na die privaatsektor gewyk om onder meer vir Denel en Eurocopter te werk.
So het hy waardevolle ondervinding opgedoen in die instandhouding en opbou van kleiner vliegtuie, maar ook Boeings, Hercules vliegtuie en helikopters.
Om met hierdie lugvaartreuse te werk, sê hy, is egter nie naastenby so uitdagend of intensief soos om met ligte vliegtuie te werk nie.
Rudi sê hy sien kans om die mees gefrommelde wrak weer op te bou.
“As ’n Cessna se neus weg is, moet jy van die begin af werk om die neus weer te vorm, en jy’t nie juis planne om van te werk nie,” vertel hy. “Cessna gaan nie sommer vir jou die bloudrukke van hul vliegtuie verskaf nie!”
Anders as in Amerika, waar die meeste parte geredelik teen goeie pryse beskikbaar is, moet tegnici in die Suid-Afrikaanse bedryf meestal self nuwe panele opbou en onderdele met vernuf vervaardig.
“Dit maak dat hierdie werk baie intensief is, maar baie lekker!”
Benewens die herstel en diens van vliegtuie, doen die onderneming ook sogenaamde “home builds” van veral Van’s RVs.
Dit is voorafvervaardigde vliegtuie wat in stukke van oorsee ingevoer word, en dan ter plaatse opgebou word – die ware Jacob van die houtvliegtuigies waaroor seuns vir ure kan buk en worstel om die onderdele met gom bymekaar te lym.
Op besoek aan die onderneming wil dit bietjie met jou kop smokkel om so tussen ’n skuur en ’n plaaswerf met ploeë en ander implemente skielik ’n blinksilwer vliegtuigloods te sien verrys. Dit is uit hierdie gebou wat die onderneming bedryf word.
En daar’s planne om nog soortgelyke silwer konstruksies te bou.
Die aanloopbaan van plaaseienaar Daan Morkel van Diemerskraal is net ’n hanetree daarvandaan, en ’n windkous maak dit duidelik dat hier met vliegtuie gewerk word.
Nou waarom juis buite Wellington so ’n niche-herstelonderneming?
“Man, ek woon nou al seker meer as drie jaar op Sanddrift, so ’n ent hiervandaan,” sê die Gautenger terwyl hy van sy vrou Henriëtte se liefde vir hierdie omgewing gesels.
“Ek en ’n potensiële vennoot het begin planne maak om ons eie besigheid op die been te bring, en ek het begin rondsoek na ’n geskikte plek in die Boland daarvoor.”
“Ek’t honderde kilometers gery op soek na die regte plek, en een Saterdag sommer uit moedeloosheid vir my tuinier, Jan Claassen, gesê ek glo nie ek gaan ooit ’n plek kry nie.
“Toe sê hy vir my van die vliegveld op Diemerskraal, skaars 8km van waar ek bly!
“Ek het hom sommer dadelik in die motor gelaai om te gaan kyk, en die einde van die storie is dat ons die gebou van Daan huur!”
Dit is nou netjies ingerig met al die nodige masjinerie en gereedskap om hul werk seepglad te kan doen.
’n Deel van 15m² is ingerig vir die sproeiverf van ’n vliegtuig.
Dit is so groot dat ’n vliegtuigie daarin geparkeer kan word sonder dat dit uitmekaar gehaal hoef te word.
Rudi, ’n selferkende perfeksionis, sê dit bly ’n passie om ’n vliegtuig op te bou of te herstel. En te verseker dat alles eksieperfeksie is.
“Ons moet voldoen aan die standaarde van Burgerlugvaart, en word gereeld geoudit om so die nodige sertifikate te kan ontvang.
“Ek is net nie ’n ou wat kanse vat nie,” sê hy, “want ek glo ‘better safe than sorry’.
“Ek is baie streng oor veiligheid, en dinge reg doen. Ek het net te veel mense al sien kanse vat.”
Dis mos nou presies wat mens wil hoor van ’n vliegtuigmeganikus, in dié dae van vallende vliegtuigenjins en ander verwante insidente.