Omroeper sterf
2005-06-15
’n GELIEFDE aanbieder van Radio KC, Warren Smith (21), het die naweek tydens ’n asma-aanval gesterf.
Warren het vyf jaar lank by die radiostasie gewerk en was bekend vir sy Saterdagoggend musiekprogram “I’m doing it at the moment and loving it”.
Sy verslae kollegas by Radio KC sal Warren onthou as “die een wat altyd dieselfde was en nooit humeurig was nie."
Warren, van La Provencelaan, Lustigan in Paarl-Oos, was drie jaar ’n asmalyer en het onlangs ’n erge verkoue opgedoen, waarskynlik die oorsaak van die massiewe asma-aanval Sondag.
Hy het met ’n A-simbool vir ekonomie aan Klein Nederburg Se- kondêr gematrikuleer.
Sy werkgewer, Bernard Haasbroek, was saam met sy kollegas by Alfresco Signs erg geskok oor die dood van die “stil, bestendige jong man wat geleef het vir sy stokperdjie, die radio.”
Hy laat sy ouers, Ferdi en Wenda, broers Shaun (26) en Justin (14) en suster Ferdiwean (16).
’n Roudiens word Donderdag om 19:00 in die skoolsaal van LK Zeeman gehou, met die tuisdiens Saterdag om 09:00 te Suikerbekkiestraat 571 en die gedenkdiens om 10:00 in die Volle Evangeliekerk in New Orleanslaan.
More
News
|