Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Vaders moet leiding gee

Vaders moet leiding gee
 
2005-06-15

Leon Steenkamp

VADERSKAP behels om leiding te neem, en dan die regte leiding te gee.

So sê die bekende Paarlse tennisafrigter David Samaai, wie se kleinseun Egon self ook nou onder sy afrigting uitblink in dié sport.
Egon (11) is reeds onder die voorste tennisspelers in sy ouderdomsgroep in die land.

Hy gaan op 22 Junie na België as lid van ’n SA o.12 span wat aan De Blauwe Tennistoernooi gaan deelneem. En sy oupa David het ’n groot hand in dié jongeling se sukses.

Egon bly van kleintyd af al na skool by sy oupa, een van die voorste tennisafrigters in die land, terwyl sy ouers werk.

David se seun Glenn (vader van Egon), ’n aardrykskunde-onderwyser
by Klein Nederburg Sekondêr, is self ’n ervare tennisspeler wat tennis- sowel as lewenslesse by sy pa gekry het.

Vir dié twee generasies wil David (77) steeds die voorbeeld stel: “Vaderskap beteken jy moet voor loop en die ander moet reg loop agter jou aan.

“Dit is belangrik, want as Pa nie voor reg loop nie, dan kan hy nie omkyk en sê maar kyk wat het jy gedoen nie. Jy moet dus die voorbeeld stel.”

Tennis loop sterk in die bloed van die Samaai-gesin.

David het die land laat regop sit toe hy in die jare van apartheid as ’n bruin speler op eie stoom oorsee is om in die Wimbledon-toernooi te speel.

Hy het by sy pa John tennis leer speel.

“My pa was nie ’n uithaler-speler nie, en het maar vir oefening gespeel. Hy het my vir die eerste keer tennisbaan toe geneem, nog voor op sy bicycle, toe ek so sewe jaar oud was.”

Van iets soos afrigting was daar vir David geen sprake van nie. Balle teen die muur slaan in die agterplaas was sy hoofafrigting en
wedstryde teen sy sewe broers, wat ook almal kon tennis speel, was hoe die jong man sy talent in dié sport geslyp het.

“As my pa tennis gepraat het, het ons altyd nader gestaan, want ons het geweet hy gaan iemand bykom wat swak gespeel het.

“So was dit met my seun, Glenn. Hy het die bal vreeslik hard geslaan of die balle nou in of uit is. Sy idee daardie tyd soos enige 15-jarige was - neuk die bal.

“Toe roep my pa vir hom eendag opsy en sê vir hom ’n mens kry nie punte vir die bal teen die draad agter slaan nie.

“Daai tyd was rakette duur en my pa het stukkies snaar, els en ’n hamer altyd saamgedra toernooi toe en as daar iets verkeerd gegaan het, som- mer die raket daar langs die baan reggemaak. Ek kon nooit een snaar insit nie, maar hy het die tegniek geken.

“Die hele familie en al die broers het my vreeslik on- dersteun. In die vakansies begin ons sesuur die oggend speel en maak sesuur die aand klaar en elke keer speel ek teen ’n ander broer.”

Dit is dié toewyding deur Samaai en ondersteuning van sy gesin wat hom vierkantig in die kollig sou plaas.

So het dit gekom dat dié 20-jarige onderwyser van die Paarl in 1949 sy tasse gepak het vir Wimbledon.

In 1951 het hy vir die tweede keer oorsee gegaan en daarna weer in 1954. Dit was dan ook sy beste jaar: toe het hy die derde ronde behaal in Wimbledon en ook ’n hele paar ander Britse toernooie gewen.

Met sy terugkeer na Suid-Afrika het hy al sy skoolvakansies gebruik om vertoonwedstryde regoor die land te speel “om die tennis so ’n skoppie te gee.”

Hoewel hy sy tennis gespeel het in ’n tyd waar hy deur die regering van die dag verhoed is om tot sy volle potensiaal te ontwikkel, is Samaai nie verbitterd nie.

“Ek is nie gefrustreerd nie, maar ’n bietjie teleurgesteld, because I never knew how good I was. Maar alles wat ek gedoen het, het ek geniet."

Glenn het ook sy merk op die tennisbaan gemaak maar sy spesialiteit was die dubbelspel.

“Ek het begin met tennisette in die laerskool en ook gewen in die kampioenskappe wat die Unie daardie tyd aangebied het,” vertel Glenn.

In sy hoërskooljare by Noorder-Paarl Sekondêr het hy begin tennis speel en ook telkens die Boland Skolespan gehaal.

Glenn was maar 17 toe hy deurgedring het na die eindstryd van die SA Senior Dubbels Tenniskampioenskappe.

“Ek sal dit nooit vergeet nie - toe hulle oor die luidspreker sê dat ek my matriek geslaag het.

“Mense het nie geweet dat ek so jonk was nie - ek speel toe teen twee hardebaard ouens,” vertel Glenn met ’n glimlag.

As jong tiener was hy een van vier landwyd (en die enigste een in die Boland) wat die junior toernooi oorheers het. Maar politiek het ook sy
geleenthede beperk.

“Hulle het vir ons gesê dat wanneer ons so 17 of 18 jaar oud is, sal hulle ons oorsee stuur. Maar toe tree die Glen Eagles-ooreenkoms in 1976 in werking wat beveel het dat alle toere van en na Suid-Afrika gestop moet word.

“Ek sou sê dat ons as juniors het die sport-boikot in Suid-Afrika ingelyf,” vertel Glenn oor die stand van sake toe hy 13 jaar oud was.

“Vandag nog probeer ek dit by die kinders tuisbring waardeur ons is, maar hulle verstaan dit nie.”

Glenn was vir 10 jaar Boland dubbelskampioen, en het ook verskeie ander provinsiale toernooie gewen.

Onder sy kapteinskap het die Boland-span vir ses jaar agtereenvolgens die interprovinsiale toernooi gewen.

“Oor daardie periode het ek slegs een enkelswedstryd verloor en al my dubbelswedstryde gewen.”

Glenn vertel dat sy pa sy eie manier gehad het om hom op die baan te “inspireer”.

“As ek dubbels gespeel het, het my pa agter my op die baan gestaan. As ek nie vinnig genoeg vorentoe na die net beweeg het om te ‘volley’ nie, het my met klippe begin gooi. En dit was nie ’n grap nie, hy’t gegooi om dood te gooi,” vertel hy met ’n laggie.

“Maar ons ouens is baie lief vir vlughoue. As ons ’n wedstryd speel hop die bal net een keer en dit is as die ander ou afslaan - daarna is alles voor by die net.

“Dit was deel van jou, jy vrees nie. As jy dubbels speel, en jy gaan net toe en jy is bang jy word raakgeslaan, dan moet jy maar wegbly.

“En daardie tipe afrigting het my ook gehelp om my ander vrese te oorkom.

“Dit het my gehelp leer hoe om druk te hanteer en dit is een van die belangrikste lesse wat ek by Daddy geleer het,” vertel Glenn.

“Dit het my ook geleer om nie bang te wees om ’n besluit te neem nie, hetsy op die baan of in my lewe, solank jy net eerlik is met jouself.”

“Daarom sê ek vir Egon hy moet die geleenthede gryp as dit sy kant toe kom.

“Dit is goed om te sien dat die opofferinge van ons gemeenskap in daardie tyd terugkom en vrugte afwerp.”

Vir Egon is dit ’n groot voorreg om een van die beste tennisafrigters in die land as oupa te hê: "Ek jaag in die middae deur my huiswerk sodat ons by die tennisbaan kan kom en begin speel,” sê Egon skamerig.

Sy pa voeg by: “Hulle twee (Egon en David) is baie geheg aanmekaar. Hulle het ’n spesiale verhouding wat Egon met geen ander afrigter sou hê nie.”

* Die gesin het almal bedank wat bygedra het tot Egon se reiskostes.



More News
  • Om die braaivleisvuur met Jan Braai
  • Versoeningsfees met fakkelloop
  • Iets spesiaal vir die beste braai denkbaar
  • Bok-fever strikes Paarl as Rugby kicks off
  • Hoe keer ’n gevangene terug na die gemeenskap?
  • Mr Winelands aangewys
  • Vreugde ná eerlikheid met vol beursie
  • Horses on gentle gallop to recovery
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za