TERWYL die meeste mense tydens die volgende week saam met geliefdes gaan verkeer, terwyl hulle borde vol kos geniet, is daar talle haweloses wat in eensaamheid die feestyd sal deurbring.
Maar vir diegene wat hul pad na The Haven Nagskuiling in Ambagsvalleistraat Huguenot vind, is daar wel ’n lig aan die einde van die tonnel. Sodat hulle ook nou kan uitsien na ‘n heerlike Kersmaal op Kersdag.
Onder die wakende oog van bestuurder Eugene Zwaan en maatskaplike werker Haybre Krieling, ontvang ongeveer 120 mense hier ’n gemaklike bed om in te slaap en drie maaltye per dag.
“Ons verskaf verblyf vir werklose mense, werkende haweloses en pensionarisse,” vertel Zwaan.
“Mense van orals klop by ons aan en as jy met hulle begin gesels, kom jy agter dat van hulle op ’n tyd goed geleef het, maar om een of ander rede op die straat beland het.
“Hier was al mense wat gekwalifiseerde dokters en sakemanne is, wat net besluit het dat hulle te veel van die gedruis van hul lewens gehad het.
“Ander mense het van ’n doodgewone, gemaklike lewe in armoede verval weens sosio-ekonomiese redes.
“Dan is daar bejaarde of ongeskikte mense wat deur hul families verwerp word.
“Hier bied ons vir ieder en elk ’n veilige hawe waar ons vir hulle van die grond af probeer optel om ’n nuwe lewe te skep.”
Werkloses betaal R10 per nag hier, werkendes R17 en behoeftige pensionarisse kan vir R420 per maand daar woon.
“Maar die geld is nie ‘n kwessie nie. Ons sal vir enigiemand help wat aan ons deur klop, al is dit net met ’n bord kos en ’n stort.
Haybre se taak is om die inwoners van die nagskuiling waar moontlik te herenig met hul families.
“Ek moet ook baie van die inwoners help met aansoeke vir identiteitsdokumente, pensioen en ongeskiktheidstoelaes, asook toesien dat diegene wat onder mediese sorg is by die hospitaal uitkom.
“Vir talle mense is ons ma, pa en verpleër.”
Uit 17 soortgelyke nagskuilings dwarsoor die Wes-Kaap is die Paarlse tak die grootste.
Die Haven val onder die vaandel van die Lions en maak grootliks staat op besighede om skenkings te maak.
“Besighede in die Paarl maak gereeld hul harte oop vir ons, veral met skenking van voedsel. Soms het ons te veel voedsel om self te gebruik en dan skenk ons die bederfbare voedsel aan ander behoeftige organisasies.”
Tans mag slegs volwassenes by die nagskuiling tuisgaan.
“Kinders het gespesialiseerde sorg nodig, en voordat ons hieroor beskik, kan ons hulle nie akkommodeer nie.
“Ons sal wel wil hê dat hawelose gesinne hier kan tuisgaan.”
Daar word van elke inwoner verwag om een uur per dag te spandeer aan werk in en om die nagskuiling. Hulle help met skoonmaak en kombuis- en tuinwerk.
Die nagskuiling het ook sy eie besigheid waar daar boublokke vervaardig word.
Inwoners wat hierby betrokke is, word vir hul werk betaal en leer ook vaardighede hierdeur aan.
“’n Nuwe projek wat ons tans loods, is ’n kaartsisteem.
“Lede van die publiek kan nou by ons ’n nagskuilingkaart koop vir R10 en dan oorhandig aan ’n hawelose persoon.
“Hiermee kan hulle vir ’n nag by ons kom rus en kos kry.
“Ons is geensins ten gunste daarvan dat die publiek vir haweloses geld gee nie. Dikwels word dit vir die verkeerde doeleindes aangewend en ons kaartsisteem sal sorg dat daar na hulle omgesien word.”
Diegene wat belangstel, kan vir Zwaan skakel by 021-862-1812.
* The Haven Nightshelter in Paarl cares for 120 homeless people daily, providing them with three meals per day and a warm