DIE nuwe boek van Theo Kemp, getitel Skool, word vanaand by die Breytenbach- sentrum op Wellington bekend gestel. Kemp is die bestuurder van die sentrum.
Skool is ’n boek wat eers jou manier van kyk na boeke en na ons windskewe onderwysstelsel deeglik deurmekaar krap en dan op ongewone manier daarin slaag om jou volkome in die verhaal in te trek.
Want Skool, hoewel fiksie, is gegrond op ’n feitelike ondersoek wat Kemp na die onderwyssituasie in die land gedoen het.
Die gevallestudies in die boek is gegrond op die werklikheid, maar is slim verwring en verdraai sodat mense wat in die werklikheid by soortgelyke situasies betrokke is, hulself kwalik in die boek sal herken.
Kemp het die afgelope week in ’n onderhoud gesę dat hy eintlik nie ’n fiksie-skrywer kan of wil wees nie. Hy stel in die werklikheid belang, nie in verhale wat fiktief deur die skrywer geskep word nie.
Hy wou egter sy graad in skeppende skryfwerk onder Marlene van Niekerk aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi en die tientalle voorbeelde van presies hoe benard die onderwyssituasie in Suid-Afrika is, spook al ’n leeftyd lank by hom.
Toe maak hy van sy feitelike ondersoek na die onderwysstelsel ’n verhaal en stuur sy fiktiewe verteller (met die naam Theo Kemp) die land vol om na die vooskolle in ons onderwys te gaan kyk – vanaf Orania tot in sy grootwordwęreld in die Oos-Kaap (of is dit die fiktiewe Theo Kemp se grootwordwęreld?) en in skole op die Kaapse Vlakte.
“Die skryf van Skool het my kop help oopmaak. Om die boek en daardeur my kursus in skeppende skryfwerk te voltooi, was ek gedwing om my werk by ’n Kaapse uitgewery te bedank en na die Breytenbach-sentrum te kom waar ek minder kantoorgebonde sou wees sodat ek my navorsingswerk by die skole kon afhandel.
“Hier het ek in die praktyk begin ervaar wat my navorsing aan my begin uitwys het: dat jy ’n span passievolle, toegewyde opvoeders nodig het om elke student te ondersteun wat wil verander deur kennis in te neem. Die sukses wat ons tot dusver met die groot verskeidenheid opvoedkundige programme by die sentrum behaal het, is uitsluitlik te danke aan die toewyding van die groepie omgee-mense wat hier saam met my werk as kursusfasiliteerders.”
Belangstellendes wat die geleentheid wil bywoon kan Olivia kontak 021 873 2786.